Laerskool Kathu produksie behaal verskeie toekenings
ADVERTISEMENT
Kalahari Toneelfees ’n ware viering van talent en passie. Hoendervleis en trane, maar ook toneelstukke wat jou laat skater het van die lag was te sien vanaf 27-30 Augustus 2025 by die derde Kalahari Toneelfees aangebied deur Laerskool Kathu in hul Meerkatteater.
Twee-en-twintig toneelstukke vanaf 10 skole is oor vier dae opgevoer met uiteenlopende aktuele temas, talent uit die boonste rakke en hoë kwaliteit produksies.
Laerskool Kathu het die volgende uitslae met hul vier produksies behaal:
- Beste laerskoolproduksie: Kinders van Kerkstraat
- Beste junior akteur: Ignus Nortjé
- Beste junior aktrise: Sarah-Faye Lubbe
- Beste junior manlike byspeler: Jan-Eric Cockcroft
- Beste nuutgeskrewe teks: Maplotter Park
Laerskool Kathu se produksies het ook verskeie nominasies ontvang onder meer vir beste regie, beste junior vroulike byspeler, beste junior aktrise en beste junior akteur. In verskeie katgorieë het die skool se produksies teen mekaar meegeding om die pryse. In die kategorie vir Beste laerskoolproduksie het Laerskool Kathu drie van die vier nominasies ontvang.
Die beoordelaars was ’n formidabele span wat bestaan het uit professionele akteurs Viljé Maritz en Regen Joel. Die plaaslike beoordelaars was afgetrede onderwyser Kudu Smit en taal-spraakterapeut Lizél Saaiman. Viljé en Regen het ná elke produksie repliek gelewer wat vir die spelers en regisseurs goud werd was. Hulle het ook op Saterdag 30 Augustus ’n toneelwerkswinkel aangebied om vir opkomende akteurs en aktrises meer van die bedryf te leer.
Die fees groei elke jaar in gewildheid en teatergangers moet al behoorlik spring om te sorg dat hulle betyds hul kaartjies koop. Die kwaliteit van die produksies is elke jaar van hoogstaande gehalte. Vanjaar se temas was onder meer mensehandel, straatkinders en boemelaars, die uitdagings van verhoudings en om jou ware self te wees. Daar was ook lieflike fantasieverhale vir die kleinspan asook klassieke verhale soos CJ Langenhoven se spookstories.
Die span wat die fees organiseer onder leiding van mnr. Brémer Meyer het die beoordelaarstoekenning ontvang vir hul organisasie van die fees. Lank lewe die Kalahari Toneelfees!













