Hoërskool DF Malan boogskut ontvang erkenning vir haar prestasies
ADVERTISEMENT
Hoërskool DF Malan wil graag vandag bietjie spog met Janke van Niekerk in graad 10. Janke het gedurende die derde kwartaal die volgende sportprestasies bereik en erkenning daarvoor ontvang: Einde Julie neem sy deel, by Camp Discovery in Limpopo, aan Africa Genesis Archery se internasionale boogskiet-kompetisie as die onderkaptein van die SA skolespan. Daar het 5 lande deelgeneem en in die Bullseye-kompetisie verower haar span ‘n silwer medalje met Kanada wat die goue medalje wen. In die 3D-kompetisie wen haar span die goue medalje en hulle is ook die algehele wenners in die gekombineerde kompetisie.
Einde Augustus word Janke genooi na die Wes-Kaapse regering se prysuitdeling vir die Departement van Kulturele sake en Sport. Janke is een van 3 finaliste vir die Skole Sportvrou van die jaar toekenning vir haar prestasie in swartkruit skiet by die Nasionale kampioenskappe wat vroeër die jaar plaasgevind het.
Gedurende die Oktober-vakansie neem Janke deel aan die African Genesis Archery se Nasionale kampioenskappe. Sy wen ‘n silwer medalje (uit 61 skuts) in haar ouderdomsgroep deur dieselfde telling te skiet as die wenner, maar sy word uitgetel op die hoeveelheid tiene wat sy geskiet het. Sy wen ‘n brons medalje (uit 208 skuts) vir hoërskool meisies nadat sy weer uitgetel word op dieselfde telling as die silwer medalje. Sy behaal ‘n sewende plek uit 466 hoërskool seuns en dogters. Janke, dit is voorwaar briljante prestasies en ons is gewelding trots op jou! Hou so voort!












