[Onderhoude]- Hugenote Hoërskool Netbal Eerstespankaptein – Zani Booysen
ADVERTISEMENT
Ons gesels met die netbal eerstespankaptein van Hugenote Hoërskool-Zani Booysen. Lees die spesiale uitgawe vir die Interskole tussen Hugenote vs Swartland hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
Zani Booysen
Hoe was die voorseisoen vir hierdie span, en wat het dit vir julle gewys oor die groep se karakter, ingesteldheid en toewyding? Ons voorseisoen het goed verloop. Dit het vir ons baie geleenthede gebied om te verbeter, op ons sterkpunte voort te bou en as span aan ons swakpunte te werk. Die uitdagings gedurende die voorseisoen het elke meisie in die span se deursettingsvermoë en karakter na vore gebring.
Wat maak vanjaar se eerstespan anders as vorige spanne, en hoekom moet ondersteuners opgewonde wees om julle hierdie seisoen te sien speel? Ons span het vanjaar baie nuwe spelers met vars energie, maar daar is steeds ’n goeie balans tussen jeug en ervaring. Ondersteuners kan uitsien na ’n wil-om-te-wen-houding en ’n vasberadenheid wat nooit wankel nie. Ons speel vir mekaar en vertrou mekaar ten volle.
Wat gaan deur jou kop in die oomblikke voordat jy die baan of veld in jou skoolkleure betree, en wat beteken daardie geleentheid vir jou persoonlik?Elke keer voordat ek op die baan draf, voel ek ongelooflik trots om my eerstespanrokkie saam met die mense vir wie ek so lief is, te dra. Ek weet dit is ’n voorreg en sal dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Elke wedstryd is ’n geleentheid om my skool te verteenwoordig en om deur goeie sportsmanskap “Blackie Excellence” op die baan uit te leef.
Elke sterk span het sy eie identiteit – hoe sal jy julle span se speelstyl, ingesteldheid en gees beskryf?Ons leuse is “We Stitch Together”, en dit beskryf ons identiteit baie goed. Die persoonlikhede in ons span is baie uiteenlopend: sommige is stil, gefokus en kalm, terwyl ander energiek, humoristies en luidrugtig is. Ten spyte van hierdie verskillende persoonlikhede kom ons as ’n gedrewe en gemotiveerde span bymekaar.
Ons speelstyl weerspieël al ons persoonlikhede: dit is gestruktureerd en goed beplan, maar terselfdertyd gelaai met energie. Ons “stitch” deur moeilike tye, fokus altyd op die positiewe en kyk voortdurend hoe ons kan verbeter.
Watter standaard het jy en jou span hierdie seisoen vir julself gestel, buiten net om wedstryde te wen?Natuurlik wil ons wen! Ons grootste doelwit is egter om ná elke wedstryd beter te wees en voort te bou op ons vorige vertonings. As ons mekaar met elke wedstryd beter maak – op én van die baan af – het ons reeds gewen.
Ons fokus op dit wat ons kan beheer: om deur die week hard te werk en alles op die baan te los. Ons leuse is: “Beheer wat jy kan beheer en laat God die res doen.” Ons speel voluit en saam as een span, met die doel om in elke wedstryd te verbeter.
Watter wedstryd staan vir jou die meeste uit op die kalender, en wat maak daardie wedstryd so belangrik vir die span?
Interskole staan altyd uit. Ons werk die hele jaar op na dié wedstryd en sien baie daarna uit. Vir sommige van ons is dit ons laaste hoërskoolnetbalwedstryd en ook ons span se laaste wedstryd saam. Dit is ons laaste geleentheid om as span ons karakter en deursettingsvermoë te toon.
Wie in hierdie span dink jy gaan mense hierdie seisoen verras, en wat maak daardie speler iemand om dop te hou? Elkeen van ons – hou hierdie spasie dop …
Wat leer hierdie sport by jou skool vir spelers wat verder gaan as net wat op die baan of veld gebeur? Netbal is ’n spansport en leer ons om onsself én ander te vertrou. Dit kweek dissipline en bou vriendskappe wat ’n leeftyd kan hou.
As kaptein, watter tipe leier wil jy hierdie seisoen vir jou span wees, en watter voorbeeld wil jy stel? Ek fokus daarop om kalm en gefokus te bly, selfs wanneer die druk gedurende ’n wedstryd hoog raak. Ek probeer om altyd positief te bly en seker te maak dat elke speler in haarself glo. Ek wil ’n voorbeeld van nederigheid en ’n positiewe ingesteldheid stel.
Wanneer mense julle span hierdie jaar sien speel, wat hoop jy sal hulle ná die tyd oor die groep sê?
Ek wil hê mense moet sê dat ons ’n span is wat met passie speel en nooit enigiets halfhartig aanpak nie. Ek hoop hulle sal sien dat ons as ’n eenheid vir mekaar speel en Hugenote se naam hoog hou.










