[Onderhoude]- Hugenote Hoërskool Rugby Eerstespankaptein – Divan Steenkamp
ADVERTISEMENT
Ons gesels met die rugby eerstespankaptein van Hugenote Hoërskool-Divan Steenkamp. Lees die spesiale uitgawe vir die Interskole tussen Hugenote vs Swartland hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
Divan Steenkamp
Hoe was die voorseisoen vir hierdie span, en wat het dit vir julle gewys oor die groep se karakter, ingesteldheid en toewyding? Dis die eerste keer, sover ek weet, dat Hugenote so vroeg met kondisionering begin het. Die vroeë voorbereiding het nie net ons fiksheid verbeter nie, maar ook die grondslag gelê vir die sterk broederband wat ons vandag as span het. Dit het gewys dat elke speler bereid is om die ekstra myl vir mekaar én vir Hugenote te loop.
Wat maak vanjaar se eerstespan anders as vorige spanne, en hoekom moet ondersteuners opgewonde wees om julle hierdie seisoen te sien speel?Daar is geen onderskeid tussen ouderdomme of grade in ons span nie. Wanneer jy die eerstespantrui aantrek, dra elke speler dieselfde verantwoordelikheid en hou ons mekaar aanspreeklik om ons beste te lewer.
Ons bou mekaar eerder op as om mekaar af te breek. As iemand ’n fout maak, motiveer ons hom om weer op te staan en met selfvertroue aan te hou speel. Ek glo ons eenheid, passie en bereidwilligheid om vir mekaar te speel, is wat ondersteuners trots sal maak wanneer hulle langs die veld staan en ons ondersteun.
Wat gaan deur jou kop in die oomblikke voordat jy die baan of veld in jou skoolkleure betree, en wat beteken daardie geleentheid vir jou persoonlik?Ek is baie gefokus op die dag en probeer soveel moontlik saam met my spanmaats as ’n eenheid rondbeweeg terwyl die wedstrydplanne deur my kop maal. Ek maak ’n punt daarvan om by elke moontlike wedstryd langs die veld te wees en my mede-Blackies te ondersteun. Dis vir my ’n groot pelle voorreg om my skool te verteenwoordig, en ek besef die verantwoordelikheid wat as eerstespankaptein op my skouers rus.
Elke sterk span het sy eie identiteit – hoe sal jy julle span se speelstyl, ingesteldheid en gees beskryf?Ons is ’n span wat vir mekaar speel. Ons identiteit lê in ons fisieke spel, peller ne en die vertroue wat ons in mekaar het. Wanneer een peller ’n fout maak, staan die res van die span saam om hom op te tel. Ons speel met trots en passie, en vir die Hugenote-embleem op ons bors.
Watter standaard het jy en jou span hierdie seisoen vir julself gestel, buiten net om wedstryde te wen?Ons standaard is om elke dag een persent beter te wees as wat ons gister was en om elke wedstryd met trots, dissipline en volle toewyding te speel. Ons wil fisiek en aggressief wees waar dit saak maak, maar altyd binne die reëls van die spel. Ons moedig mekaar aan om ná foute weer op te staan en aan te hou veg, want karakter word nie net deur oorwinnings gebou nie, maar ook deur hoe ’n mens uitdagings hanteer.
Watter wedstryd staan vir jou die meeste uit op die kalender, en wat maak daardie wedstryd so belangrik vir die span?Die interskolewedstryd teen Hoërskool Swartland op 15 Augustus is beslis die hoogtepunt van ons seisoen. Dit is nie net die 50ste interskole nie, maar vir baie van ons ook ons laaste interskole as matrikulante. Om hierdie geskiedkundige wedstryd op ons tuisveld te speel en alles vir Hugenote te gee, sal iets wees wat ons altyd sal onthou.
Wie in hierdie span dink jy gaan mense hierdie seisoen verras, en wat maak daardie speler iemand om dop te hou?
Zeeque Adams is seker die kleinste speler op die veld, maar hy het die grootste hart. Hy doen alles voluit. Sy duikslae, ongeag die grootte van sy teenstander, is indrukwekkend, en dan het hy ook spoed wat vir niks skrik nie.
Wat leer hierdie sport by jou skool vir spelers wat verder gaan as net wat op die baan of veld gebeur?Rugby by Hugenote leer jou baie meer as net die spel. Dit leer jou respek, dissipline en verantwoordelikheid, asook dat niemand alleen sukses behaal nie. Dit maak nie saak hoe groot, sterk of oud jy is nie – as jy bereid is om hard te werk en vir die span te speel, is jy deel van ’n broederskap wat jou vir die res van jou lewe sal bybly.
As kaptein, watter tipe leier wil jy hierdie seisoen vir jou span wees, en watter voorbeeld wil jy stel? Ek wil ’n leier wees wat deur sy voorbeeld lei en wat dien eerder as om net opdragte te gee. Ek glo respek word deur jou optrede verdien. Ek wil die ou wees wat eerste opstaan ná ’n terugslag, wat altyd sy beste gee en wat elke speler laat glo dat hy ’n waardevolle deel van hierdie span is.
Wanneer mense julle span hierdie jaar sien speel, wat hoop jy sal hulle ná die tyd oor die groep sê? Ek hoop hulle sal sê dat ons ’n span was wat met trots, respek en karakter gespeel het; dat ons nooit opgegee het nie; dat ons altyd vir mekaar geveg het; en dat ons Hugenote Hoërskool op die beste moontlike manier verteenwoordig het. As mense ná die wedstryd sê hulle kon sien dat ons vir mekaar en nie vir onsself nie speel, sal ek weet ons het ons doel bereik.










