Eerste uitdun vir Hoërskool Merensky praters
ADVERTISEMENT
Hoërskool Merensky se redenaarsprogram is in volle swang met die ATKV Interne Rondte wat op 2 en 3 Februarie beslis is. Buitebeoordelaars, mee. Simoné Smalberger en Simoné Schoeman, asook juf. Lize Crafford het die deelnemers op hul baadjies getakseer. Tradisioneel word redenaars by Plasieland aangemoedig om in beide die voorbereide en onvoorbereide afdelings deel te neem, en die sprekers het die gehoor en beoordelaars glad nie teleurgestel nie.
In die juniorafdeling, met voorgeskrewe temas Krake, Gidse en Erfenis, het die seuns die voortou geneem. Henk de Wet in graad 9 tree as topspreker uit die stryd, met Jeandré Tolken en Campbell McLean kort op sy hakke.
Die meisies het die onvoorbereide afdeling gedomineer met Petla Venter as wenner, Euné Pohl tweede en Chané Gouws in die derdeplek. Ander deelnemers was Andrea van Deventer, Ruhann Koekemoer, Tamar Kellerman, Rouxné Schnettler en Amoré Coetzee.
Die seniors se temas was Keuses, Grense en Maatstaf. Drikus du Toit in graad 11 het oudergewoonte weer die gehoor aan sy voete gehad, en is as wenner in die voorbereide afdeling aangewys. Gesoute redenaars, Keynan Fox en Waldo de Kock was tweede en derde. Die meisies het weereens bewys ‘n vrou is altyd gereed vir ‘n redenasie, met Leané Craucamp wat die onvoorbereide wenner was, terwyl Michelle Robertson en Willané van Niekerk die tweedeplek deel. Johan van den Heever eindig derde in dié afdeling, waaraan Luané Maré, Anke Rood, Ruzanne Koekemoer, Jayden Jurgens, Adriaan du Plessis, Henro Janse van Rensburg en Geané Anderson ook deelgeneem het.
Junior_redenaars_en_beoordelaars_Lize_Crafford_en_Simone_Smallberger(1)
Junior Redenaars en beoordelaars. Voor: Tamar Kellerman, Andrea van Deventer, Jeandré Tolken, Aeden Anderson, Campbell McLean. Middel: Me. Lize Crafford, Petla Venter, Chané Gouws, Euné Pohl, Ruhann Koekemoer, Rouxné Schnettler, Amoré Coetzee, me. Simoné Smallberger. Agter: Henk de Wet.
In die afdeling Eerste Addisionele Taal het skiewies Irma van Wyk (eerste), Karja Kruger (tweede) en Aeden Anderson (derde) mekaar die stryd aangesê. Karja was ook braaf genoeg om die onvoorbereide afdeling aan te durf en het goed met die Huistaal-leerders vergelyk. Geluk aan ousus Zila Kruger wat die wenner was in die voorbereide en onvoorbereide afdelings vir seniors.
Dit was ‘n fees om weer die beoordelaars en ouers in die gehoor te kon verwelkom. Naas die MDDK Eisteddfod in 2021, was hierdie Merensky se eerste lewendige, tegnologievrye redenaarsbyeenkoms in byna twee jaar. Die Plasiepraters skud hul vere reg vir die eerste rondte wat op 21 en 22 April plaasvind. Sprekers wat nie vir die ATKV Redenaars kwalifiseer nie, sal aan ATKV DigiPraat kan deelneem.









