Sand du Plessis Amateur Stoeieklub skitter by Vrystaatliga
ADVERTISEMENT
RIEBEECKSTAD – Sand du Plessis Amateur Stoeiklub het op 18 April uitstekend gevaar tydens die tweede Vrystaatliga wat by die Goudveld Stoeiklub in Riebeeckstad aangebied is.
Altesaam 161 inskrywings is vir die byeenkoms ontvang, waarvan 55 van Sand du Plessis Amateur Stoeiklub afkomstig was. Die klub het weereens bewys dat hulle een van die sterkste stoeiklubbe in die streek is deur ’n indrukwekkende 32 eerste plekke, 10 tweede plekke en 6 derde plekke te behaal.
Volgens die organiseerders het die deelnemers in verskillende ouderdoms- en gewigsklasse meegeding. Die standaard van stoei was besonder hoog en sterk kompetisie is deurgaans tussen die onderskeie klubs gelewer.
Wat hierdie prestasie nog meer besonders maak, is dat die klub se stoeiers uit verskillende skole in Bloemfontein en omgewing afkomstig is. Leerders van Grey College, Sentraal, Jim Fouché, President Brand, Universitas Primêr, asook kinders wat tuisonderrig ontvang, vorm almal deel van die span.
Die jong stoeiers het deur die dag uitstekende dissipline, deursettingsvermoë en spanwerk getoon. Ondanks die strawwe kompetisie het hulle met vasberadenheid en selfvertroue op die mat uitgeblink.
Afrigters van die klub het gesê hulle is baie trots op elke deelnemer wat die klub verteenwoordig het. Volgens hulle is die medaljes die resultaat van baie ure se harde werk, oefening en opoffering.
“Ons kinders oefen hard deur die jaar en dit wys in hul prestasies. Ons is trots op elkeen wat die moed gehad het om op die mat te klim en hul beste te gee,” het een van die afrigters gesê.
Die klub het ook hul dank uitgespreek teenoor die ouers en ondersteuners wat die dag bygewoon het en die stoeiers deurentyd aangemoedig het.
Sand du Plessis Amateur Stoeiklub het al die deelnemers gelukgewens met hul uitstekende prestasies en gesê hulle sien reeds uit na die volgende Vrystaatliga, waar hulle hoop om op hierdie sukses voort te bou.











