Ligbron Akademie vir Tegnologie hokkieseuns derde in Noordvaal
ADVERTISEMENT
Ligbron Akademie vir Tegnologie se o.14 seunshokkiespan het tydens die afgelope Noorvaal A uitspele derde geëindig. Dit was egter nie ‘n maklike pad na bo nie. In hul twee poelwedstryde het hulle te staan gekom teen Hoërskool Driehoek. Hulle wen hierdie wedstryd gemaklik met 5 – 1, maar hul tweede wedstryd is teen Hoërskool Waterkloof, waar hulle die knie moes buig met ‘n eindtelling van 0 – 2. Hulle het wel ‘n plek in die kwarteindstryd verseker waar hulle teen Hoërskool Nelspruit te staan gekom het. In ‘n titaniese stryd wat tot ‘n “sudden death” gevorder het, wen hulle die wedstryd met een doel. In die halfeindstryd speel hulle teen Helpmekaar Kollege. Met ‘n telling van 0 – 2 moet hulle uitspeel vir derde en vierde plek.
Hul laaste opponente in die toernooi is Potchefstroom Gimnasium. Hulle slaag daarin om hierdie wedstryd 2 – 0 in hulle guns te beklink, wat aan hulle ‘n derde plek in die toernooi verseker. Die span is afgerig deur Jakus Olivier wat verlede jaar nog op Ligbron se skoolbanke gesit het en een van die sterspelers in die skool se Eerste seunsspan van 2024 was. Met hierdie prestasie begin hy sy loopbaan as afrigter op ‘n hoë noot. Ligbron het die grootste respek vir die manier waarop hy hierdie jong span afgerig en gelei het.
Katlego Mogale
Ligbron se o.14 seunshokkiespan
SD Muller










