Laerskool Vredekloof groei,prestasie en trots in aksie
ADVERTISEMENT
Laerskool Vredekloof het die afgelope week verskeie hoogtepunte beleef wat die belangrikheid van ondersteuning, ontwikkeling en deelname binne ons skoolgemeenskap beklemtoon.
Woensdagaand, 20 Mei, het ons die voorreg gehad om dr. Serahni Symington by die skool te verwelkom waar sy haar waardevolle kennis gedeel het oor hoe ons ons kinders se emosionele welstand kan ondersteun en om die impak van afknouery op hul emosionele en sosiale ontwikkeling beter te kan verstaan. Die insiggewende sessie het ouers en personeel praktiese leiding gebied oor hoe om afknouergedrag te herken, kinders doeltreffend te ondersteun en die belangrikheid van samewerking beklemtoon om ’n veiliger, vriendeliker en meer omgee-skoolomgewing vir al ons leerders te skep.
Ons bedank dr. Symington opreg dat sy haar kundigheid met ons gedeel het en ons skoolgemeenskap met praktiese hulpmiddels toegerus het om kinders te ondersteun terwyl hulle groei en ontwikkel. Saam kan ons ’n betekenisvolle verskil in die lewens van ons leerders maak.
Nog ’n trotse prestasie is dié van Temica van Zyl, ’n Graad 5-leerder, wat op 15 April aan die eerste rondte van die ATKV Redenaarskompetisie deelgeneem het en gekies is om aan die semi-finale op 27 Mei by ATKV Goudini Spa deel te neem. Ons is ongelooflik trots op Temica se prestasie en wens haar alle sterkte toe vir die volgende rondte. Ons weet sy sal ons skool se naam met trots verteenwoordig.
Dinsdag, 19 Mei, het ons Juniorkoor deelgeneem aan Laerskool Brackenfell se jaarlikse kooraand. Die koor het die gehoor bekoor met hul pragtige uitvoerings van A Little Child’s Prayer, Rondomtalie en My Grandfather’s Clock. Ons Juniorkoor het met entoesiasme en trots opgetree en die gehoor se harte verower. Ons is trots op elke koorlid wat ons skool met soveel ywer verteenwoordig het. Baie dankie aan die Juniorkoorspan en al die ouers vir hul ondersteuning.
By Laerskool Vredekloof glo ons dat elke geleentheid – of dit nou akademies, kultureel of persoonlik is – bydra tot die groei en ontwikkeling van ons leerders.









