Nuwe Hoërskool Parel Vallei-tradisie bekendgestel
ADVERTISEMENT
Christian Kotzé (graad 12) het as graad 8-Brakkie sy heel eerste strikdas by sy “spokie” in matriek gekry. Hierdie dogter het ‘n strikdasbesigheid gehad en Christian was gaande oor die growwe materiaal wat hulle gebruik het. Hy het sy geskenk na elke geleentheid moontlik gedra, ook sy eerste junior dans.In sy graad 9-jaar het Christian en sy vriend, Benjamin Kleyn begin om hulle gewone skooldasse in die vorm van ‘n strikdas te vou. “Ek het nog iewers ons selfie foto’s wat ons met die strikdasse geneem het,” vertel Christian. “Ek het daarna besluit om die ander leerders se gevoel te toets oor so ‘n das as deel van ons skooluniform en het by die VLR gan aanklop vir toestemming om ‘n petisielys op te stel.”
Met die hulp van Caitlyn Schoeman het Christian saam met ‘n lid van die VLR elke graad 8- tot 10-registerklas besoek om handtekeninge in te samel. Dit het maande geneem, maar uiteindelik was hy gereed om sy voorlegging aan die skool se beheerliggaam te maak saam met die eerste prototipe wat sy vriend, Thomas Yell, vir hom uit ‘n gewone das se materiaal gemaak het. Die voorstel is aanvanklik goedgekeur, maar die inwerkingstelling is eers uitgestel. In 2022 het Christian besluit om weer nuwe lewe te blaas in hierdie idee wat al so ‘n lang pad met hom en sy ander vriende saamkom. “Ons het ‘n nuwe prototipe ontwerp en die koste daarvan voorgelê en nadat die beheerliggaam dit goedgekeur het, is die spoggerige strikdas vir die matrieks die afgelope week bekendgestel! “Tradisies gee ‘n skool karakter en is die dinge wat leerders eendag sal onthou,” sê Parel Vallei se adjunkhoof, mnr Dricus Basson. Dit is veral besonders as die idee by leerders begin en met geduld en as span deurgevoer word.












