Ligbron Akademie vir Tegnologie seunshokkiespanne draf hul opponente kaf
ADVERTISEMENT
Ligbron Akademie vir Tegnologie se seunshokkiespanne het die afgelope week twee Gert Sibande ligawedstryde teen onderskeidelik Hoërskool Oosterland en Hoërskool Evander gespeel.
ERMELO – Ligbron Akademie se seunshokkie-spanne het ’n uitstekende week agter die rug met klinkende oorwinnings teen beide Hoërskool Oosterland en Hoërskool Evander. Met vinnige, aanvallende spel en pure deursettingsvermoë, het die Ligbron-stokke gewys dat hulle tans in topvorm is.
Woensdag se wedstryde teen Oosterland het strawwe kompetisie opgelewer. Die O.14-span het in Secunda amok gemaak en met ’n stewige 3-0 oorwinning teruggekeer. Op die Liggies se tuisveld moes die O.16-span egter die knie buig met ’n telling van 0-2. Die eerste span se kragmeting is deur swaar weer onderbreek, maar die Liggie spelers het koelkop gebly en na die onderbreking die laaste twee doele ingeslaan, om ‘n oorwinning van 3 – 0 te verseker.
Die seuns het Vrydag met dieselfde passie teen Evander gespeel. Die eerste span het van die begin af aanvallend gespeel en hul opponente geen asemkans gegun nie. Dit het gelei tot ’n oortuigende 4-0 oorwinning. Die O.16-span het ook hul staal gewys deur ’n moeilike wedstryd 2-1 in hul guns te beklink.
Ligbron is trots op hierdie vertonings, waarin die seuns gewys het waarom hulle gedugte teenstaanders op die hokkiebaan is.











