Ligbron Akademie vir Tegnologie onderwyser ryg medaljes in
ADVERTISEMENT
Me Elmarie Grobler, Afrikaase onderwyseres by Ligbron Akademie vir Tegnologie, het onlangs aan die Gauteng-Noord Meestersatletiekbyeenkoms deelgeneem.Sy het aan die 5-kamp deelgeneem, wat beteken sy het aan twee baanitems (100m en 200m) en drie velditems (gewigstoot, diskus en hammergooi) deelgeneem. Sy het een goue, 3 silver en ‘n bronsmedalje gewen. Boonop kwalifiseer sy om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deel te neem wat op 1 Mei in Germiston sal plaasvind
Grobler se atletiekloopbaan het op hoërskool in Pretoria begin. Sy het veral uitgeblink in die 400m en diskus. Sy het Noord Transvaalkleure in diskus verwerf. Na skool het sy nie weer deelgeneem nie en haar eerder toegespits of afrigtingswerk. In 2014 het sy besluit om saam met haar atlete te begin oefen en in 2016 het sy aan die Vrystaatse Ope Atletiekbyeenkoms deelgeneem waar sy sodanig presteer het dat sy vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe gekwalifiseer het. Niks kon haar stuit nie en sy eindig eerste in Suid-Afrika.

Elmarie Grobler
Sedertdien het Grobler vir sewe jaar haar provinsie op die atletiek baan en -veld met groot sukses verteenwoordig. Die 78 medaljes wat sy huis toe gebring het getuig hiervan. Na al die jare bly diskus haar gunstelingitem.As afrigter het sy haar egter op naellope toegespits. Sy is veral trots op Ligbron atlete soos Terry Jayaguru wat in 2022 saam met sy drie Mpumalanga spanmaats die Suid-Afrikaanse kampioene in die 4×400 meter aflos was. Jayaguru speel tans Amerikaanse voetbal in die VSA. Nog twee atlete wat uitstaan is Asanda Babuza en Siyanda Mkonza, wat opgeneem is in die Mpumalnaga 4x100m aflosspan en ook met die louere tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe weggestap het.
Grobler sê haar twee kinders, Lana en Marco, is bitter trots op haar en is sonder enige twyfel haar grootste ondersteuners. Atletiek is egter nie haar enigste passie nie. Sy is ook ‘n kunstenaar van formaat wat verf as medium verkies. In die klaskamer het sy haarself onderskei as een van die provinsie se beste Afrikaanse onderwyseresse, wat reeds vir ‘n paar jaar die provinsiale interne moderator van Afrikaans Eerste Additionele Taal, vraestel 3 is.
Ligbron eer hierdie uitsonderlike lid van hul personeel vir die prestasies wat sy behaal het en sien met verwagting uit na dit wat sy nog gaan bereik.









