Christelike Privaatskool onderwysers verruil klaskamers vir kelnerskinkborde
ADVERTISEMENT
Die personeel van Christelike Privaatskool Malmesbury (CPM) het Woensdagaand 20 Mei gewys dat fondsinsameling nie altyd koekverkopings en lootjies hoef te wees nie. In ’n kreatiewe en hartverwarmende inisiatief het die onderwysers hul klaskamers verruil vir skinkborde en vir ‘n aand as kelners diens gedoen by die Malmesbury Sabino Canyon Spur.
Die unieke projek, gedryf deur skoolhoof mnr Waldo Cloete, het nie net ten doel gehad om mfondse vir die skool in te samel nie, maar ook om bande tussen die skool, ouers, plaaslike ondernemings en die gemeenskap te versterk.
“Ons wou iets anders doen, iets wat mense bymekaarbring en terselfdertyd pret is,” het hy vertel. “Dit was wonderlik om buite die klaskamer as span saam te werk.”
Die atmosfeer by Spur was feestelik en vol laggende gesigte terwyl leerders verras en opgewonde was om deur hul eie onderwysers bedien te word. Vir baie kinders was dit ’n hoogtepunt om hul juffrou of meneer hul bestelling te sien neem, kos en koeldrank aan te dra en selfs tafels af te vee. Dalk ook hier en daar ‘n glips met ‘n glas wat omval of ‘n bord wat laat val is en breek.
Die fondsinsameling het ook ’n belangrike boodskap uitgedra − dat ’n skool veel meer is as net ’n plek van leer; dit is ’n familie en ’n steunpilaar van die gemeenskap. Volgens mnr Cloete was die aand ’n groot sukses. “Wanneer ’n gemeenskap saamstaan, gebeur merkwaardige dinge. Hierdie was nie net fondsinsameling nie, maar ’n geleentheid om verhoudinge te bou en waardering vir mekaar te toon.”
Die inisiatief het beslis bewys dat CPM bereid is om kreatief te wees, soms selfs uit die klaskamer te stap en om ’n verskil te maak. Met skinkborde in die hand en glimlagte op hul gesigte het die personeel gewys dat diensbaarheid en spanwerk steeds die hart van ware opvoeding bly.












