Onderhoude – Laerskool Bastion Hokkiedogters Eerstespankaptein – Milan Kotzé
ADVERTISEMENT
Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Bastion en Van Riebeeckstrand hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie. Ons gesels met die hokkiedogters eerstespankaptein van Laerskool Bastion- Milan Kotzé.

Milan Kotzé
Hoe was die voorseisoen vir hierdie span, en wat het dit vir julle gewys oor die groep se karakter, ingesteldheid en toewyding? Die voorseisoen was baie belangrik vir ons span en het gewys watter tipe groep ons is. Ons het hard gewerk aan ons fiksheid en vaardighede, maar wat regtig uitgestaan het, was hoe ons mekaar ondersteun het en nooit opgegee het nie.
Almal het moeite gedoen, nie net vir hulself nie, maar vir die span. Ons het vroeër gekom, ekstra geoefen en mekaar gehelp om beter te word. Ons twee afrigters doen ook ekstra moeite om die beste uit elkeen van ons te bring. Ons is so bevoorreg! Dit het gewys dat ons baie toegewyd is en regtig as ’n span wil groei. Die voorseisoen het ook gewys dat ons sterk karakter het. Selfs wanneer dinge nie perfek gegaan het nie, het ons aangehou probeer en oplossings gesoek. Dit het ons as span nader aan mekaar gebring en ’n goeie basis vir die seisoen geskep.
Wat maak vanjaar se eerstespan anders as vorige spanne, en hoekom moet ondersteuners opgewonde wees om julle hierdie seisoen te sien speel? Hierdie jaar se eerstespan is anders as vorige spanne omdat ons baie hegte vriendskappe gevorm het. Daar is wedersydse respek en vertroue tussen die spelers. In die span is daar meisies wat alles sal gee vir die sport en trots is om in die eerstespan te wees. Ons word ook deur geloof gelei, wat ons help om gefokus en positief te bly. Die meisies staan saam, ondersteun mekaar en veg tot die einde. Ons het ook verlede jaar ’n baie goeie kaptein gehad wat ’n sterk fondament vir die span gelê het.
Ondersteuners moet opgewonde wees om ons hierdie seisoen te sien speel, want ons is ’n span wat nooit opgee nie. Ons speel met passie en energie, en werk hard vir mekaar op die veld. Ons het ook goeie karakter en ’n groot wil om te wen. Ons wys deursettingsvermoë, bly positief en gee altyd ons beste. Dit maak ons wedstryde opwindend om te kyk, want ons speel met hart en trots.
Wat gaan deur jou kop in die oomblikke voordat jy die baan of veld in jou skoolkleure betree, en wat beteken daardie geleentheid vir jou persoonlik? Oomblikke voordat ek die baan in my skoolkleure betree, praat ek eers met my Skepper en vra Hom om my te help en te lei, sodat ek ’n ambassadeur vir Hom kan wees. Ek wil hê Hy moet my gebruik. Daar is ’n liedjie wat sê: “God, I have an open invitation, use me.” Ek sê ook vir myself dat ek sterk moet begin, anders gaan ons swak eindig. Vir my beteken dit om volle verantwoordelikheid te neem vir elkeen van my susters langs my, en om ’n leier en ’n goeie voorbeeld te wees. Daar is nie ’n gevoel of emosie wat ek kan gebruik om my trots te beskryf nie — dit beteken net alles vir my.
Elke sterk span het sy eie identiteit — hoe sal jy julle span se speelstyl, ingesteldheid en gees beskryf? Elke sterk span het sy eie identiteit, en ons s’n lê in ons ingesteldheid en hoe ons mekaar dra. Bastion-meisies is gewoond aan harde werk — ons verstaan dat niks vanself kom nie, en ons werk vir elke geleentheid. Ons is ingestel op die groter prentjie en speel nie net vir onsself nie, maar vir die span, die skool en vir iets groter as dit.
Ons neem niks as vanselfsprekend nie, en dit wys in hoe ons oefen en speel. Selfs die klein dinge, soos hoe ons saam dans tydens opwarming, wys ons eenheid en die vreugde wat ons in die spel het. Ons gees is verreweg die beste, want dit kom van binne af. Ons staan saam in moeilike tye, lig mekaar op en speel met ons hart.
Watter standaard het jy en jou span vir julself hierdie seisoen gestel, buiten net om wedstryde te wen? Die standaard wat ek vir my span stel, gaan oor meer as net wen. Dit gaan oor om te leer en saam te groei — nie net as spelers nie, maar as mense. Ek wil hê ons moet met integriteit speel, altyd ons beste gee en die regte dinge doen, selfs wanneer dit moeilik is. Dit gaan vir my daaroor dat elkeen verantwoordelikheid neem, nie net vir haarself nie, maar ook vir die span. Ek wil hê ons moet ’n span wees wat ander respekteer, nederig bly in oorwinnings en sterk staan in moeilike tye. Aan die einde van die dag moet ons kan sê ons het alles gegee, mekaar gedra en gegroei — dit is vir my die ware standaard.
Watter wedstryd staan vir jou die meeste uit op die kalender, en wat maak daardie wedstryd so belangrik vir die span? Die wedstryd wat vir ons uitstaan, is verseker Eversdal. Ons weet hulle is ’n baie sterk span, en dit maak die uitdaging net groter en meer opwindend. Vir ons gaan dit nie net oor die uitslag nie, maar oor hoe ons onsself gaan toets. Dis ’n kans om te sien hoe ver ons as span gekom het en om onsself teen sterk kompetisie te bewys. Ons sien dit as ’n geleentheid om te groei en om te wys wie ons regtig is wanneer dit saak maak.
Wie in hierdie span dink jy gaan mense hierdie seisoen verras, en wat maak daardie speler iemand om dop te hou? Alisa is ’n Graad 6-dogter in ons span, en sy groei met elke wedstryd. Haar verbetering is nie net in haar spel nie, maar ook in haar selfvertroue en hoe sy haar plek in die span begin inneem. Sy wys ’n sterk werksetiek en ’n bereidheid om te leer, en dit maak haar besonders. Ek glo sy is beslis iemand om dop te hou, want sy het die potensiaal om nog baie te bereik.
Wat leer hierdie sport by jou skool vir spelers wat verder gaan as net wat op die baan of veld gebeur? Die sport by ons skool leer ons dinge wat jy nie in ’n klas kan leer nie. Dit wys vir ons hoe om onder druk die regte keuses te maak, hoe om kalm te bly wanneer dinge nie uitwerk nie, en hoe om op te staan wanneer jy geval het. Dit leer jou ook om vir iets groter as jouself te speel — om op te daag vir jou span, selfs op dae wanneer jy nie lus is nie. Jy leer wat dit beteken om op mekaar te vertrou en om eerlik met jouself te wees oor die mens wat jy hoop om te wees. Op die ou einde bou dit nie net spelers nie, maar mense wat sterk is van binne, wat kan aanpas en wat weet wie hulle is, op en van die baan af. Dit leer jou ook dat ware groei nie altyd maklik of vinnig is nie, maar dat dit die moeite werd is — en dat die persoon wat jy word, belangriker is as enige uitslag op die telbord.
As kaptein, watter tipe leier wil jy hierdie seisoen vir jou span wees, en watter voorbeeld wil jy stel? As kaptein wil ek die tipe leier wees wat regtig omgee — iemand wat daar is vir my span, nie net op die veld nie, maar ook daarbuite. Ek wil ’n pleister wees vir ander se wonde, iemand wat opbou, luister en help dra wanneer dit swaar gaan. Ek wil hê God se lig moet deur my skyn, sodat mense dit kan sien in hoe ek optree en hoe ek ander behandel. Ek wil ’n verskil maak, nie deur groot woorde nie, maar deur die klein dinge wat wys dat ek werklik omgee. Vir my gaan leierskap daaroor om ander te help groei, om hoop te bring en om ’n span te bou waar elkeen voel sy behoort — want dit is waar ware krag lê.
Wanneer mense julle span hierdie jaar sien speel, wat hoop jy sal hulle ná die tyd oor die groep sê? Wanneer mense ons span sien speel, hoop ek hulle stap weg met die gevoel dat hulle iets eg gesien het — ’n groep wat mekaar kies, elke keer, in elke oomblik. Dat ons nie terugstaan wanneer dit swaar raak nie, maar juis dan vorentoe tree. Ek hoop hulle sien ’n span wat kalm bly wanneer alles vinnig gaan, wat besluite met doel neem en wat mekaar stil-stil dra. Dat daar ’n sekere trots en eer in hoe ons speel is — nie net vir onsself nie, maar vir elke persoon wat saam met ons hierdie pad stap. Ek hoop ook hulle sien ware sportmansgees — hoe ons teenstanders respekteer, reg speel en waardigheid wys, maak nie saak wat die uitslag is nie. Vir my wys ’n ware span homself in die klein oomblikke: wie opstaan ná ’n fout, wie ander eerste sit, en wie aanhou glo wanneer niemand kyk nie.









