[Onderhoud] Diamantveld- Eerstespan netbalkaptein – Klarissa Taljaard
ADVERTISEMENT
AWSUM het die geleentheid gehad om met Klarissa Taljaard, netbalkaptein van Hoërskool Diamantveld te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruisigte vir die seisoen..
Hoe het die span hulle vir die seisoen voorberei en op watter aspekte van die spel het julle gefokus? Ons het aan die begin van die seisoen elke oggend voor skool kondisionering gedoen – soms baanfiksheid en soms in die gimnasium. Ons het tot nou toe elke week ’n tydtoets wat ons binne ’n sekere tyd moet voltooi. Op die baan oefen ons regtig hard, leer elke dag uit ons vorige foute, en motiveer mekaar ná elke oefening. Aan die einde van elke week hou ons saam godsdiens om mekaar te herinner dat ons nie verniet hard werk nie. Ons fokus baie op ons houding teenoor ander op die baan en onthou waarvoor ons speel, maar vir ons bly dit belangrik om dit altyd te geniet.
Wat dink jy maak julle span hierdie jaar mededingend? Ons is baie nederig teenoor ander spanne en respekteer altyd hulle spel. Wat ons mededingend maak, dink ek, is dat ons mekaar nooit op die baan afbreek nie. Ons help en ondersteun mekaar dwarsdeur die wedstryd, ongeag hoe moeilik dit soms raak.
Wat beteken dit vir jou om jou skool as ’n eerstespan-speler te verteenwoordig? Dit beteken ongelooflik baie vir my. Ek is baie trots wanneer ek oor my span praat. Ek voel geweldig bevoorreg om vir die eerstespan te speel, want waarvoor ek gewerk het, het ek nie net ontvang nie, ek het dit verdien.
Watter doelwitte het julle span vir die seisoen gestel? Ons grootste doelwit is om alles wat ons doen te geniet. Dit maak nie saak hoe ernstig ons oor ’n wedstryd was of hoe ver ons soms verloor nie – deur alles wil ons die seisoen geniet en ons beste gee.
Watter span of toernooi beskou jy as julle grootste uitdaging hierdie seisoen? Wildeklawer was beslis ons grootste uitdaging hierdie jaar. Dit is ’n groot toernooi, en almal gee altyd hulle beste. Dit is juis by hierdie toernooi waar ons ook ons beste wou lewer en nuwe hoogtepunte wou bereik om saam met ons te dra en elke oomblik daarvan te geniet.
Watter netbalster of sportpersoonlikheid bewonder jy, en waarom juis hy of sy? Sanmarie Visser. Sy motiveer my om elke dag met ’n positiewe gesindheid baan toe te stap en altyd my alles te gee, hetsy tydens oefening of op die baan self. Sy verdien regtig dit waarvoor sy werk, en dit laat my glo dat, maak nie saak wat die situasie is nie, ek ook kan bereik wat ek verdien, solank ek bereid is om hard te werk en alles in te sit.
AWSUM het gesels met die Hoërskool Diamantveld eerstepan netbal-afrigter Bethenie du Raan. Lees wat die toeskouers Saterdag kan verwag:
Wat kan die skool en ouers van julle span verwag? Wat van ons verwag kan word, bly deurentyd dieselfde en is glad nie net gekoppel aan een spesifieke wedstryd nie. Ons doel is altyd om ons skool só te verteenwoordig dat die skool en ons ondersteuners trots kan wees. Ons wil speel om dit te geniet terwyl ons goeie gedrag op, én van die baan af, handhaaf. Wanneer ons wen, wil ons dit doen met nederigheid en respek teenoor ons opponente, en wanneer ons verloor, sal dit wees met ons koppe omhoog, omdat ons weet ons het ons beste gegee.
Hoe berei julle span in die week tot aanloop van `n wedstryd voor? Ons glo daarin dat “you play like you practise” – ons oefen met dieselfde ywer, erns en intensiteit wat ons tydens wedstryde van ons spelers verwag.
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar? Elke speler in ons span lewer ’n belangrike bydrae tot die span se sukses. Daar is nie ’n spesifieke posisie of persoon waaraan meer krag of belangrikheid gekoppel word nie. Ons is nie net ’n span nie; ons is ’n dinamiese eenheid wat uitstekend saam funksioneer.
Wie het tot dusver die grootste invloed op jou as afrigter gehad? Is daar iemand na wie jy opkyk? Daar is talle afrigters na wie ek opkyk en wat goeie voorbeelde stel van hoe om ’n goeie afrigter te wees. Daar is nie een spesifieke persoon wat ek wil uitsonder nie, aangesien ek glo dat mens by alle afrigters kan leer, ongeag op watter vlak hulle tans afrig of reeds afgerig het.
Watter boodskap dra jy aan jou span oor net voordat hulle op die veld hardloop? Die belangrikste boodskap wat ek vir my span voor ’n wedstryd gee, afgesien van die tegniese en taktiese aspekte, is om elke oomblik ten volle te geniet.









