[Onderhoud] HS Diamantveld – Eerstespan Rugbykapteins – Enrique Boshoff en Jonathan Harding
ADVERTISEMENT
Dubbele leiding een span- AWSUM gesels met beide van Hoërskool Diamantveld se eerstespan-kapteins:
Hoërskool Diamantveld Rugbykapteins: Enrique Boshoff (Gr. 8) & Jonathan Harding (Gr. 12)
Dubbele leiding, een span – ons gesels met beide van Diamantveld se eerstespan-kapteins oor die seisoen, hul waardes en waarheen hul visie die span neem.
Hoe uitdagend was die voorbereiding vir die seisoen en is julle gereed vir die uitdagings wat voorlê?
Enrique: Die voorbereiding vir die seisoen was redelik uitdagend. Dit het baie harde werk en dissipline van ons vereis, maar dit het ons beslis sterker gemaak as span. Ek glo daar is altyd ruimte vir verbetering, maar ek staan bankvas agter my span en weet ons is gereed vir enige uitdaging wat oor ons pad kom.
Jonathan: Die begin van die voorseisoen was baie uitdagend en het groot opofferings van ons geverg. Maar daardie harde werk het uiteindelik vrugte afgewerp, en ek glo dit gaan goeie resultate oplewer in die toekoms.
Watter spesifieke sterkpunte glo julle onderskei hierdie jaar se span van die opposisie?
Enrique: Ons is beslis ’n kragtige span, maar dit is veral die passie en hart van elke speler wat uitstaan. Ons het as span reeds baie struikelblokke oorkom, en dit het ons sterker en meer eenheidsgedrewe gemaak.
Jonathan: Daar is ’n besonderse verhouding tussen al die spelers – dit berus op nederigheid en respek. Ek dink dit is ’n unieke eienskap wat ons werklik onderskei van ander spanne.
Hoe voel dit om die eerstespan van julle skool te lei, en waarop fokus julle as leiers?
Enrique: Dit is ’n ongelooflike eer en beslis ’n droom wat waar geword het. As kaptein probeer ek nie net op die veld leiding gee nie, maar ook van die veld af. Ek wil die span bou, motiveer, dissipline handhaaf en almal aanmoedig om hul beste te gee – ongeag die uitdaging.
Jonathan: Ek voel baie geëerd – dit is elke rugbyseun se droom om vir die eerstespan uit te draf. Ek fokus daarop om positiewe energie in die span in te bring en om, ongeag die telbord, motivering en vasberadenheid te handhaaf.
Watter tradisies of waardes maak Diamantveld se rugbykultuur uniek?
Enrique: Ons fokus daagliks op waardes soos dankbaarheid, respek, eerlikheid, deernis en dissipline. Ons streef daarna om dit op, én van die veld af, uit te leef en om altyd die klein dinge reg te doen.
Jonathan: Die trui-oorhandigingseremonie bly vir my baie spesiaal. Daar is ook ’n diep respek teenoor die eerstespan-kleedkamer, en dit dra by tot die trots en tradisie wat met Diamantveld-rugby saamgaan.
Watter doelwitte het julle as span vir die seisoen gestel?
Enrique: Ons het saam verskeie doelwitte gestel: om ons pawiljoene vol te maak, in die Top 20 te eindig en om Classic Clashes teen Hoërskool Noord-Kaap te wen. Ons belangrikste doelwit is egter om ten alle tye die Here se lig uit te straal.
Jonathan: Ons grootste doelwit is om broederskap te bou – om vir mekaar te speel en te besef die span is belangriker as enige individu. Wanneer ons as eenheid funksioneer, is niks onmoontlik nie. Die wenpersentasie sal dan vanself volg.
Watter opkomende wedstryde of toernooie sien julle die meeste na uit?
Wildeklawer en Classic Clashes is vir ons die groot hoogtepunte. Dit bring nie net blootstelling nie, maar gee ons ook die kans om teen topopposisie te meet.
Is daar ’n professionele rugbyspeler na wie julle opkyk, en hoekom?
Enrique: Ek kyk op na Richie McCaw. Hy was nie net ’n uitstaande speler nie, maar ook ’n inspirerende leier met sterk karakter. Hy het sy span tot groot hoogtes gelei en dit is wat ek ook nastreef.
Jonathan: Sonny Bill Williams. Ten spyte van al sy groot suksesse bly hy gefokus op sy geloof en leef hy nederig. Sy geaardheid en mede-menslikheid is vir my baie inspirerend.









