[Onderhoud] Philip Molnár: o.19A rugby-afrigter van Hoërskool Diamantveld
ADVERTISEMENT
AWSUM het gesels met die Hoërskool Diamantveld eerstepan rugby-afrigter Philip Molnár. Lees wat die toeskouers Saterdag kan verwag:

Philip Molnár
Wat kan die skool en ouers hierdie Interskole van julle span verwag? Hulle kan ’n span verwag wie se fondasie op ’n positiewe spankultuur gebou is. ’n Span wat daarop uit is om aantreklike rugby te speel om die mense van Kimberley na die pawiljoen te lok om die wedstryde te kyk!
Hoe berei julle span in die week tot aanloop van Interskole voor (fisies en geestelik)? Ons vat dit wedstryd vir wedstryd en sit baie tyd en energie in elke voorbereiding. Ons analiseer die teenstanders se wedstryde, hou videosessies, en gaan presies deur wat ons die naweek op die veld wil bereik. Só weet elke speler op ’n Saterdag presies wat van hom verwag word, wat help om die spelers geestelik gereed te kry vir die wedstryd.
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar? Ons het ’n pak voorspelers wat hard werk en agterspelers wat goed kan afrond. Al het ons hierdie jaar nog nie 100% gevaar nie, raak ons sterker met elke wedstryd. Ons krag lê definitief daarin dat ons voorspelers die fondasie lê, sodat die agterspelers die punte op die bord kan plaas.
Wie het tot dusver die grootste invloed op jou as afrigter gehad? Is daar iemand na wie jy opkyk? Daar is al verskeie mense in my lewe by wie ek baie geleer het. Ek glo vas dat ’n mens soos ’n spons moet wees en soveel moontlik van ander mense moet leer. My broer, András Molnár, speel ’n baie groot rol in my lewe en ek kyk geweldig op na hom. Natuurlik speel my ouers ook ’n ewe groot rol. Name wat ’n groot impak op my rugbyloopbaan gehad het is mense soos Rudi Dames, Sean Erasmus, Alan Zondag, asook Oloff en Pieter Bergh.
Watter boodskap dra jy aan jou span oor net voordat hulle op die veld hardloop? Die Liewe Vader het vir elkeen van julle ’n talent gegee om rugby te speel. Die minste wat jy as speler kan doen, is om jou heel beste op die veld te gee en Hom so te bedank vir die talente wat Hy in jou geplaas het.









