Laerskool Bosveld opvoeders was beoordelaars van die ATKV Redenaarskompetisie
ADVERTISEMENT
Op Vrydag, 12 Mei 2023, het die Nasionale ATKV Redenaarskompetisie sy hoogtepunt in Limpopo bereik met die semi-finale ronde wat by Hoërskool Hans Strijdom (Mookghopong) aangebied is. Die organiseerder was mev. Johanette Pretorius, bygestaan deur volwasse – en leerling beamptes. Die top deelnemers in die Noordelike – en Suidelike kring het teen mekaar meegeding om te bepaal watter twee sprekers (wat eersdaags aangekondig sal word) in elk van die 11 kategorieë ons provinsie gaan verteenwoordig tydens die landswye rondte op 17 en 18 Augustus 2023 (D.V.) te ATKV-Goudini Spa.
Die ATKV Redenaarsproses begin in Oktober elke jaar, wanneer die volgende jaar se ATKV redenaarstemas bekend gemaak word. En dan is dit so goed of jy laat die spreekwoordelike kat in die duiwehok los. Deelnemers van graad een tot twaalf word uitgenooi om deel te neem en onderwysers en kundiges staan behoorlik bont om riglyne en raad te gee. Ouers en deelnemers steek ook voelers vir hulp uit na familielede, vriende of kennisse – persone met bewese skryftalent, want die kompetisie is straf! Tot selfoonvideo’s word ingespan om Oubout of Kleinsus se vordering te deel en wenke word altyd verwelkom. Almal weet tog dat twee (of meer) koppe nog altyd beter is as een.
ATKV Redenaars 2023: Provinsiale beoordelaars
Voor: Corné de Swardt (Lephalale), Alida van Heerden (Modimolle), Ina Delport (Pretoria), Karien Roos (Mookghopong), Anet Law (Belyning: Mookghopong), Jani van Heerden (Polokwane).
Middel: Charlie Brandt (Lephalale), Rina Erasmus (Pretoria), Dirkie van der Schyff (Polokwane), Renetté Leite (Mookghopong), Sonét Rietchard (Modimolle), Santie Gildenhuys (Modimolle).
Agter: Annarien Jacobs (Bela-Bela), Jolindi Kruger (Mokopane), Clodina Smith (Mookghopong), Johanette Pretorius (Organiseerder: Mookghopong).
Die temas wissel jaarliks van eenvoudige begrippe soos Kleur, Speel en Klein (Gr. 1 tot 3) tot komplekse konsepte soos Ideologie, Bemagtig en Inklusief (Gr 10-12). In die Voorbereide afdeling moet deelnemers ‘n beredeneerbare onderwerp uit een van die drie temas formuleer. Sommige deelnemers verkies om aan die Onvoorbereide afdeling deel te neem. In hierdie afdeling moet hulle ‘n volwaardige toespraak onder toesig in ‘n sekere tyd skryf en dan lewer. Maar het u al ooit gewonder wie die beoordelaars is wat drie-drie, klaarblyklik so belese en berese, die skerpuntpotlood van beoordeling vashou?
Die antwoord is kort en voor die hand liggend. Beoordelaars is uitstekend- opgeleide en ervare taalkundiges, skrywers, afrigters, onderwysers of dramaskool bestuurders. Hulle almal is by uitstek kultuurmense met ‘n besonderse sagte plekkie vir jongmense. Wat meer is, is dat hulle die missie van die ATKV onderskryf wat daarop gemik is om aan sprekers van alle taalgroepe die platvorm te bied om met selfvertroue in Afrikaans te kan kommunikeer en redeneer. Ons visie is dat hierdie geleentheid nog vir jare deel van die Limpopo skoolkalender sal wees!










