Hoërskool Framesby het 300 nuwe graad 8’s
ADVERTISEMENT
2024 het gekom en Hoërskool Framesby het dit weer reg gekry om geskiedenis te maak! 300 graad 8’s. Dit is 10 seksies en vir die eerste keer nog, strek ons klasse van A tot by J. ‘n Uitdaging is dit beslis om al hierdie “gedroggies” op dieselfde planeet te hou, maar ná die naweek van 19-20 Januarie, kon ons hulle verseker. Ons is reg vir hierdie uitdaging! Die inburgeringsnaweek, wat Vrydagmiddag begin het, het ‘n briljante sottekonsert opgelewer asook ‘n opwindende “Minute 2 Win it”-kompetisie waar die B-klas as wenners uit dié stryd getree het. Die aand is afgesluit met ‘n spokerige speletjiesaand (wat veroorsaak het dat sommige leerders nóú nog na ‘n verlore plakkie of twee soek). Saterdagoggend se pretdag, met die inflatables en t.s.v. die wind en weer, het gemaak dat die onbekende gesiggies mekaar sommer gou beter leer ken. Die aand is afgesluit met ‘n spesiale baadjieseremonie, waar die Framesby-Flitsies hul laerskoolbaadjies vir hul hoërskoolbaadjie verruil het en soos een man opgestaan het nadat hulle plegtig belowe het om die fakkel vir die volgende 5jaar hoog te laat brand. Wat ‘n pragtige see van blou was dit nie! Die FOV-vure het daarna vlam gevat en die ouers het ‘n gesellige ken-mekaar braai geniet. Ons is dankbaar om hierdie spesiale groot groep as Framesbiane te kan verwelkom!














