Hoërskool Despatch Matriekuitslae 2025
ADVERTISEMENT
Hoërskool Despatch het rede tot groot trots ná die bekendmaking van die 2025-matriekuitslae. Die skool het ’n indrukwekkende slaagsyfer van 93,5% behaal, ’n beduidende verbetering op vorige jare en ’n bewys van volgehoue akademiese uitnemendheid. Altesaam 168 kandidate het vanjaar die matriekeindeksamen afgelê. Hiervan het 106 leerders met graadvrystelling, 35 met diplomavrystelling en 16 met sertifikaatvrystelling geslaag. Die klas van 2025 het ook besonder goed presteer wat akademiese onderskeidings betref, met ’n totaal van 76 vakonderskeidings en 21 B-gemiddelde kanidate.
Twee leerders het spesiaal uitgestaan. Mirali Hoekstra het die meeste onderskeidings behaal met ses, terwyl Mieke Muller kort op haar hakke was met vyf onderskeidings. Die groep A-gemiddelde kandidate het verder bygedra tot die sterk akademiese profiel van die skool.

Vlnr: Mirali Hoekstra en Mieke Muller
Verskeie vakke het ’n 100%-slaagsyfer behaal, waaronder Afrikaans Huistaal, Engels Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Rekenaartoepassingstegnologie, Musiek en Toerisme. Daarbenewens het ’n aantal vakke slaagsyfers van 90% en hoër getoon, insluitend Wiskundige Geletterdheid, Lewensoriëntering, Verbruikerstudies, Ingenieursgrafika en Ontwerp, Geografie en Geskiedenis.
Die skool se slaagpersentasie toon ook ’n positiewe verbetering, vanaf 88,7% in 2023 en 91,4% in 2024, tot vanjaar se 93,5%. Volgens die skoolbestuur weerspieël hierdie uitstekende resultate die harde werk van die leerders, die toewyding van die onderwysers en die ondersteuning van ouers en die breër skoolgemeenskap. Hoërskool Despatch bly getrou aan sy 2026 tema: “Leef Lig, Wees Lig.”









