Oortuigende oorwinnings vir Parel Vallei tydens laaste wintersportdag
ADVERTISEMENT
Hoërskool Parel Vallei het die afgelope naweek die wintersportseisoen op ‘n hoogtepunt afgesluit met ‘n kragmeting teen hulle opponente van Hoërskool Strand op elke moontlike sportbaan, -veld en selfs skaakbord.
Parel Vallei het al 16 netbalwedstryde teen Hoërskool Strand gewen en ‘n verstommende 321 doele aangeteken teenoor die 122 van Strand. Ons maak graag spesiale melding van die o.18A-span wat in 2019 teen Strand verloor het en dié jaar 32-14 gewen het. Die o.15A-span het ook hulle skitterende seisoen afgesluit met ‘n pragtige 25-3 oorwinning.
Die seunshokkiespanne het al vyf hulle wedstryde gewen met die Parel Valleiers wat daarin kon slaag om 53 doele aan te teken sonder dat hulle teenstanders een keer in die doelhok kon deurbreek. Die grootste oorwinning was beslis dié van die o.14A-seunshokkiespan wat 15-0 teen Strand gewen het. Asook Parel Vallei se eerste span wat gesorg het vir ‘n finale telling van 12-0 in die guns van PV.
Die dogtershokkiespanne was ewe suksesvol en onoorwonne met die eerste span wat 11-0 gewen het. Dan die ander sewe spanne wat altesaam 29 doele aangeteken het teenoor Strand se een.
Selfs op die skaakbord was dit duidelik Parel Vallei se dag. Die o.15-span het 6-0 gewen en die eerste span 4-2.
Baie geluk aan HS Strand se rugbyspanne wat baie goed gevaar het in die nege wedstryde wat ons teen mekaar gespeel het. Die spelers het verseker beter aangepas by die uitdagende weersomstandighede. Beide skole se eerste spanne het gesorg vir ‘n interskole-stryd van formaat. Die eindfluitjie van die laaste wedstryd vir die dag het geblaas met ‘n gelykoptelling van 12 punte elk.
Foto: Die graad 12-spelers van Parel Vallei se eerste dogtershokkiespan kon hulle laaste wedstryd op ‘n hoogtepunt afsluit en is vereer vir hulle bydrae tot die span.
Foto: Parel Vallei se eerste netbalspan neem afskeid van die graad 12-spelers na afloop van hulle laaste wedstryd teen Hoërskool Strand.
Foto: Lede van Parel Vallei se eerste seunshokkiespan saam met hulle afrigters na afloop van die wedstryd teen Hoërskool Strand wat hulle 12-0 gewen het.
Foto: Die eerste rugbyspan van Parel Vallei het gelykop gespeel in hulle wedstryd teen Hoërskool Strand. Die eindfluitjie het geblaas met die telling op 12 punte elk.










