Hoërskool Ermelo wintersport begin liga op hoë noot
ADVERTISEMENT
Op Vrydag 29 April het Hoërskool Ermelo te staan gekom teen HTS Witbank op die Erries se tuis-veld.
Die netbal vaar uitstekend met sewe uit die agt spanne wat hul wedstryde wen:
Die o/14A- en B-spanne wen onderskeidelik met 15-7 en 6-4; die o/15A-span verloor 9-12 en die o/15B-span wen met ‘n pragtige telling van 16 doele teenoor een. Die o/16A-span sorg ook vir ‘n uitstekende wen-telling van 20-7 en die o/16B-span wen 14-8. Die Erries se tweedespan wen met 20 doele teenoor slegs vier en EHS se eerste netbalspan wen hulle wedstryd met 20-18.
Spelers van die wedstryde vir die netbal is as volg: Marizel van Niekerk (o/14A), Thubelihle Nene (o/14B), Katlego Lubambo (o/15A), Precious Mazibuko (o/15B), Ziyanda Vilane (o/16A), Siyanda Hlophe (o/16B), Phelelle Mhlanga (tweedespan) en Sisanda Yende (eerstespan).

Abongile Hlatswayo
Die Erries se dogtershokkie teken ‘n totaal van 15 doele aan teenoor slegs drie. Die o/14A-span wen met 4-0, die o/15A verloor met 1-2 en die o/16A’s verloor met 0-1. EHS se tweedespan wen met ‘n telling van 2-0 en Hoërskool Ermelo KS Clothing eerstespan dogtershokkie wen met agte doele teenoor nul.
Die volgende dogters is aangewys as spelers van hul wedstryde: Talitha Cronjé (o/14A), Marné de Jager (o/15A), Sulicé Geldenhuys (o/16A), Ané Olivier (tweedespan) en Mia Steenkamp (Hoërskool Ermelo KS Clothing eerstespan).

Caylin Loock
Hoërskool Ermelo se rugby behaal gemenge welslae: die o/14A-span verloor met 3-34, die o/14B-span wen met ‘n pragtige telling van 37-17. Die o/15A-span klop hul teenstanders met 7-5 en die o/15B-span verloor met 7-32. Die o/16A-span maak die Erries trots met ‘n oorwinning van 46-16 en die o/16B-span verloor met 17-22. Beide die tweede- en derdespanne wen hul wedstryde met onderskeidelik 13-12 en 19-14 en die Eerstespan verloor ongelukkig in ‘n naelbytwedstryd met 22-27.
Die spelers van die wedstryde vir die rugby was Chamiso Vilakazi (o/14A), Awian Sassenberg (o/14B), Janco Claassen (o/15A), Wian Pretorius (o/15B), Edwin Smit (o/16A), Siba Lamola (o/16B), Mafika Kubeka (derdespan), Lindo Linda (tweedespan) en Edrich Beyer (eerstespan).

Kobus van Heerden
Baie geluk aan die spanne wat hard geveg het en dié wat hul wedstryde gewen het. Sterkte met die res van die liga wat voorlê.









