Nuwe adjunkhoof vir Hoërskool Parel Vallei
ADVERTISEMENT
Parel Vallei se nuwe adjunkhoof wil grense van uitnemendheid selfs verder skuif . ‘n Opwindende nuwe seisoen het op 1 Mei vir mnr Johann de Kock aangebreek in die pos van Adjunkhoof:Akademie by Hoërskool Parel Vallei. Hy het reeds 30 jaar gelede by die PV-familie aangesluit as LO-onderwyser en sportafrigter en sien nou uit om voort te bou aan ons skool se akademiese uitnemendheid.
Hy het grootgeword in Somerset-Wes, sy BSc MBK by Universiteit Stellenbosch voltooi en na sy diensplig in Potchefstroom sy onderwysloopbaan in 1992 in Willowmore begin. Onderwys is sy passie en was nog altyd in sy bloed. Sy ma en broer was onderwysers en sy vrou, Kirsty, hou skool by Laerskool Beaumont in Somerset-Wes.
Wanneer hy gesels oor die veranderinge wat hy waargeneem het die afgelope 30 jaar, staan die gebruik van tegnologie om lesse meer visueel en interessant te maak vir hom uit as ‘n waardevolle verbetering. Onderwysers moes ook hulle kennis veel wyer as net die sillabus verbreed aangesien leerders skielik toegang tot soveel meer inligting gehad het. Die bestanddele van waardegedrewe en toekomsgerigte onderrig, goeie leierskap en ‘n gesonde balans tussen akademie en kultuur- en sportgeleenthede, is egter steeds deel van die wenresep wat leerders suksesvol help voorberei vir die wêreld van werk. “Dit is ook wat beskerm moet word terwyl ons uitreik na ander skole wat hulp vra,” sê mnr De Kock.
Mnr Johann de Kock
Hy het die afgelope tyd navorsing gedoen oor beste praktyke by van Suid-Afrika se topskole. Sy fokus was akademie, vakkeuses en kombinasies wat moontlik meer beroepsgerig kan wees en die geleenthede wat dit bied ten opsigte van tersiêre studierigtings. Hy het ook gekyk na bestuurspraktyke, finansies, kultuur, fondsinsameling, bemarking, IT, sportprogramme en meer. “Al wat ek vir eers kan sê, is dat daar opwindende tye voorlê vir almal betrokke by Parel Vallei!”
Mnr De Kock se twee dogters, Abi en Drew, het die voorreg om elke dag as trotse Parel Valleiers eerstehands te sien hoe hulle pa sy roeping om ‘n verskil te maak uitleef. “Ek glo die Here plaas elkeen van ons daar waar ons moet wees. Die grootste vreugde daarvan om `n onderwyser te wees, is om daadwerklik waarde toe te voeg tot soveel ander se lewens.”










