Ligbron Akademie vir Tegnologie krieket eerstes wen Finsburyreeks
ADVERTISEMENT
Ligbron Akademie vir Tegnologie se eerste seunskrieketspan is onlangs as die wenners van die Finsburyreeks se divisie F aangewys.
Die Liggies neem al sedert 2023 aan die Finsbury 50-lopie reeks deel. Weens hul goeie vertoning in 2025 het hulle hierdie jaar opgeskuif van divisie G na divisie F. Die eerste span moes paaie gekruis met Hoërskool Brandwag, Benoni High School, Alberton High School en Hoërskool Oosterland. Ligbron wen hul wedstryd teen Hoërskool Brandwag met 5 paaltjies, waarna hulle Benoni High School met 9 paaltjies wen. Januarie se reënweer tel in hul guns met twee bonuspunte vir die wedstryde wat uitgereën het.

Die span, wat voor die skool begin het op ‘n oefenkamp was, het uitstekende krieket gespeel. Hulle kon staatmaak op geswore Liggie spelers soos Anthony Reid en Michael Ronquest. Dit was egter die twee nuwelinge in die span wat hul opponente op hul tone gehou het. Juwan Coetzee se boulwerk en Jahred Harper se kolfwerk het verseker dat hulle as bouler en kolwer van die reeks aangewys is.









