Laerskool Bellville-Noord bied hul eerste Junior Rugbydag aan
ADVERTISEMENT
Laerskool Bellville-Noord het die afgelope Saterdag (18/4) hul eerste rugbydag vir juniorspanne aangebied. Daar was 5 skole betrokke wat elk ‘n o.7, o.8 en o.9 span by die dag gehad het. Al die spanne het in hul ouderdomsgroepe teen mekaar gespeel. Die skole was Bellville-Noord, De Tyger (Parow), Drakenstein (Paarl), Riebeeck-Kasteel (Riebeeck-Kasteel) en WA Joubert (Paarl).

Hier staan Maximus Meerkat en ons o.8’s saam met die borge (vlnr) me. Ebenette van Wyk, me. Ronell Radyn en hul afrigter mnr. Jahno Geldenhuys
Die o.7 en o.8’s het die eerste keer “tag” (volgens die nuwe reëls vir o.7 en o.8) gespeel. Die o.9’s het gewone mini-rugby gespeel, maar die skrums en lynstane is met ‘n “tikkie” vervang vir hierdie dag.
Ons was bevoorreg om wéér deur Rawson Eiendomme Bellville Oakglen geborg te word. Hul het ook verlede kwartaal ons gewilde mini-krieketdag geborg. Rugga Roots (rugby-akademie) het al die skeidsregters voorsien.

Mnr. Johannes Terblanche (heel regs) wys hier vir een van die o.7-mannetjies in watter rigting hy eintlik moet hardloop. Mnr. Terblanche is Bellville-Noord se rugby-organiseerder, help die kleintjies met die afrigting van “tag”, en het ook hierdie sportdag georganiseer.
Die ander borge was Allée Bleue Wynlandgoed, Manzi Water Brackenfell, Reno Spur, Rugga Roots en SJC Sekuriteit.
Die dag was ‘n groot sukses en ons is dankbaar dat die reën lank genoeg weggebly het dat ons al ons wedstryde kon afhandel.
Ons ouervereniging het heerlike eetgoed verkoop, en Maximus Meerkat (ons gelukbringer) het vele kinders baie laat glimlag en is sommer nou op ‘n klomp foto’s.















