Hoërskool Ben Viljoen leerders het deelgeneem aan die ATKV se DigiToneel uitdunrondte
ADVERTISEMENT
Izaan Kotze, Chenél Grundling en Caylin Sadie het deelgeneem aan die ATKV se DigiToneel uitdunrondte. ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners om hul eie monoloë onder ’n temawolk te skryf en dan vir beoordeling te verfilm. Met ATKV-DigiToneel is daar geen kortpaaie deur byvoorbeeld bestaande werk af te stof en nuut aan te bied nie. Die doel met ATKV-DigiToneel is om nuwe werk te skep en dit vir kamera te verfilm. Vanjaar se inspirasie strek uit die konsep simbiose. Die volgende woorde in die simbiotiese temawolk was die wegspringplek vir skrywers, kinematograwe en akteurs se nuwe monoloë: Saamleef, Meng, Koöperasie, Magsdeling en Demokrasie. Volgens die ATKV het inskrywings ingestroom en dit het kopkrap geverg om die top-16 aan te wys. Mentors Liezl de Kock, Jacques Bessenger, Lindsey Cele en Marlo Minnaar het gemeld dat hulle “verstom (was) oor die gehalte van die werk.”
Tydens die uitdunrondte verwerf die produksie ‘Sprokie in Suburbia’ goud, Izaan Kotze verwerf goud vir haar spel, silwer vir haar videografie en silwer vir redigering. Sy word ook as een van die Top 16-inskrywings van reg oor die land aangewys is. Die top-16 skaaf nou aan hul inskrywings en word dan verder deur nog twee beoordelaars gementor op hul reis na die nasionale eindronde, wat in Oktober tydens die vierde seisoen van Gekies vir die Kollig op VIA uitgesaai sal word. Die top-3 sal op 3 Junie aangekondig word op die ATKV se webwerf en sosialemediablaaie.
Met ‘Koffie & Kapsules’ verwerf Chenél Grundling silwer vir haar spel, terwyl die produksie brons kry. Caylin Sadie verwerf ‘n sertifikaat vir haar deelname met haar stuk ‘Pelmets van die Siel’.

Izaan Kotze

Chenél Grundling

Caylin Sadie









