Die Hoërskool Volksrust graad 11 Landbouwetenskappe-leerders ploeg terug
ADVERTISEMENT
Die Hoërskool Volksrust graad 11 Landbouwetenskappe-leerders het twee projekte waarvoor hulle verantwoordelik is. Die lêhenne wat nou al ʼn paar dosyn eiers aan die koshuis verskaf en die komposprojek. Onder André van der Walt se leiding is die groep ingedeel in onderhoudspanne. Daar is leerders wat in die oggend kosgee en die hok oopmaak. In die middag is ʼn ander groep verantwoordelik vir kosgee, seker maak al die hoenders is op hok en dat die hok toegesluit is. Donderdae is die groot skoonmaak. Die reste en mis word ook bymekaar gemaak vir die komposprojek.
Die grassnysels en organiese materiaal is gedurende die groei-seisoen versamel. ʼn Paar van die graad 11 leerders kan op die foto’s gesien word, besig om die gras om te dolwe. Baie dankie aan die klompie wat in die middag windverwaaid en soos grasmannetjies gelyk het: Abrie, Nina, Rohan, Bernique, Kamva, Aphelele, Theo en André. Die projekte en praktiese werk word aangeteken en net dalk het ʼn ou ʼn ekstra hupstootjie nodig vir ʼn beter punt! Die prakties en werksmiddae kan dan in ag geneem word by die besluit of die seun of dogter gehelp kan word.












