Hoërskool Volksrust Seunshokkie prestasie
ADVERTISEMENT
Hoërskool Volksrust Seunshokkie
Vroeg Vrydagoggend, 22 April 2022, het VHS se eerste seunshokkiespan na Potchefstroom gereis om deel te neem aan die NWU se PUK 16-finaal. Daar aangekom moes die seuns dadelik begin opwarm vir hul eerste kragmeting teen Delmas. Goeie druk is deur beide spanne toegepas wat gesorg het vir spannende oomblikke en opwindende seunshokkie. Vir Volksrust het Christiaan Coetzee en Siyakholwa Tokwane elk ‘n doel aangeteken. Dit was egter nie voldoende om hul opponente te klop nie. Delmas het uiteindelik as oorwinnaars uit die stryd getree met drie doele teenoor twee. Duwan van Niekerk is as Volksrust se speler van die wedstryd aangewys weens sy verbete verdediging.
Na ‘n kort blaaskans moes Volksrust egter weer opwarm vir hul tweede kragmeting. Na ‘n ernstige spanpraatjie en motivering deur hul afrigter (en die skoolhoof) het Volkies op die veld gedraf om PTA-Noord die stryd aan te sê. ‘n Meer gedissiplineerde VHS-span het die toeskouers vermaak met uithalerhokkie en drie pragdoele, twee deur Bernhard Viljoen en een deur Siyakholwa Tokwane, is aangeteken (teenoor die enkele doel vermag deur die Pretoria-span) in die toegelate 60 minute. Siyakholwa het uitmuntende spel gelewer en is deur die skeidsregters aangewys as speler van die wedstryd. Graag wens Hoërskool Volksrust hierdie seuns en hul afrigter geluk met hul prestasie en betuig hul trots en dank vir hul goeie gedrag en goeie sportmanskap ten tye van hierdie grootse byeenkoms te Potchefstroom. Martin le Roux
![]()










