Merensky Landbou Akademie Gr 12 Landboubestuurspraktyk gaan op ‘n uitstappie
ADVERTISEMENT
Merensky Landbou Akademie se graad 12 Landboubestuurspraktyk-leerders het op 7 en 14 April 2026 die voorreg gehad om Bushvalley Chickens in Tarentaalrand te besoek as deel van hul studies oor waardetoevoeging in die landbousektor.
Tydens hierdie insiggewende praktiese besoek het leerders eerstehands kennis gemaak met die volledige verwerkingsproses van verskeie hoenderprodukte, van aankoms tot die finale, verpakte produk, in vars of gevriesde vorm, vir bekende handelsmerke. Hulle het ook gesien hoe afvalprodukte effektief herverwerk word in proteïenryke dierevoer, wat die beginsel van volhoubaarheid en geen vermorsing beklemtoon. By Bushvalley Chickens word slegs die beste kwaliteit en snitte vir die verbruiker verpak, en niks word vermors nie.
’n Besondere hoogtepunt was die besoek aan die -35 °C verkoelingsgeriewe. Die opwinding op hul gesigte nadat hulle daar uitgestap het, het boekdele gespreek. Na die besoek is een van die leerders gevra wat vir hom die lekkerste deel van die besoek was. Sy antwoord was: “Juffrou, hoe vriendelik al die werkers ons gegroet en vir ons gewaai het.”
Die Plasies is absoluut bederf met hierdie eerstehandse ervaring en het ’n nuwe waardering gekry vir voedselverwerking, iets wat ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar. Al die personeel was uiters bekwaam, vriendelik en professioneel. Dit was beslis ’n uitstappie en ervaring wat hierdie leerders nooit sal vergeet nie. Baie dankie aan Bushvalley Chickens vir hierdie waardevolle geleentheid. Ons sien uit daarna om weer in die toekoms saam te werk!













