Meerkatte van die Karoo nou tuis by Laerskool Bellville-Noord
ADVERTISEMENT
Laerskool Bellville-Noord het verlede jaar die oulike, nederige, familievaste, en moedige meerkat as geluksbringer aangeneem. Voordat dit gebeur het, het van die personeellede al ‘n verhouding met mense uit die gemeenskap van Laingsburg begin bou danksy uitreikaksies. So het ons pad toevallig gekruis met Oom George Meyer. Hy is ‘n plaaslike kunstenaar op Laingsburg. Oom George verf die pragtigste meerkatte op klippe en daar is al ‘n hele paar daarvan in die tuin voor die skool.
Ons het ook al een van Oom George se skilderye van meerkatte aangeskaf wat nou trots in een van die gange hang. Dié skildery was vir jare half vergete op ‘n bankie in die Vloed Museum op Laingsburg voordat een van ons personeellede die werklike potensiaal daarvan raakgesien het.
‘n Paar weke terug is nog ‘n vergete kunswerk van Oom George by die Vloed Museum raakgesien. Op versoek het Oom George dit aangepas met ‘n paar Meerkatte, ‘n windpomp, ‘n plaasdam en dis ook “vernuwe” met vars verf. Nou hang daardie kunswerk in ons skoolhoof se kantoor. Dit is geverf op ‘n metaal gedeelte van ‘n byekorf wat weggespoel het in die groot vloed van 1981.
Daar is ook nuwe meerkatte (op klip uit die Karoo geverf) wat binnekort hul intrek in die skool se tuin maak, asook in drie lede van die Groentjiesklub (buitelugklub) se tuine by hul huise.














