Laerskool Kathu leerders en afrigters neem deel aan die Van Druten-finals 2025
ADVERTISEMENT
Laerskool Kathu is besonder trots op elkeen van die leerders en afrigters wat hierdie jaar aan die finale gaan deelneem. Laerskool Kathu speel dus in 19 van die 21 finale wat plaasvind op 21 Junie 2025. Die twee rugbyligafinale waar Laerskool Kathu nié betrokke is nie, is omdat Laerskool Kathu al sy o. 9-rugbyspanne ’n liga opgeskuif het met die o. 9 B Ysterperde wat derde in die A-liga geëindig het. Daarom speel die C-spanne in die B-liga teen skole se A/B-spanne en Laerskool Kathu se D-spanne in die C-liga teen skole se A/B-spanne. Nietemin het hulle uitstekend gevaar en sal die vrugte vorentoe pluk.
Laerskool Kathu het ’n wenresep beet met talentvolle kinders wat bereid is om hard te werk en bekwame afrigters om die leerders te help om hulle passie uit te leef. Ons is ook bederf met ouers wat hulle vertroue in Laerskool Kathu plaas en bankvas agter ons staan. Twaalf netbalspanne (94 leerders) en sewe rugbyspanne (133 leerders) vir ’n totaal van 227 leerders en 25 afrigters gaan dus by die finaal betrokke wees. Dit spreek boekdele oor die kwaliteit wat in dié Noord-Kaapskool weggesteek is met ’n baie sterk fondasie waarmee die leerders toegerus word om uit te blink nie net tans nie, maar ook in die toekoms. Laerskool Kathu is trots.
![]()









