Laerskool Gene Louw opvoeders bekroon
ADVERTISEMENT
Drie onderwysers van Laerskool Gene Louw in Amanda Glen het op Donderdag 11 Julie gesogte toekennings ontvang by die Metro-Noord-onderwysdistrik se seremonie van die Departement van Basiese Onderwys se Nasionale Onderwystoekennings vir 2024.
Erna Loubser, wat leerderondersteuning aan die skool se intersenfase bied en die skoolgebaseerde ondersteuningspan (SBST) koördineer, is bekroon met ’n spesiale toekenning vir Uitnemendheid in Onderrig vir Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes. Erna werk al 32 jaar in hierdie veld en is dankbaar vir die geleentheid om die kollig op leerders met spesiale behoeftes te rig. “Ek glo die mees kritieke faktor in spesiale onderrig is ’n sorgsame en liefdevolle leeromgewing wat akademiese groei, sosiale ontwikkeling en emosionele welstand bevorder,” sê sy.
Daarbenewens het Naomi Herbst en Dewald Barnard – aan die stuur van die skool se opvoedkundige tegnologiesentrum, die Genie-us Hub – as ’n span tweede gekom in die kategorie Uitnemendheid in Tegnologie: Verrykte Onderrig en Leer.
Die Nasionale Onderwystoekennings vier die prestasies van buitengewone opvoeders en word vanjaar vir die 24ste keer aangebied. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement is die gasheer van die provinsiale toekenningseremonie wat op 23 Augustus sal plaasvind. Die nasionale seremonie word vir Oktober beplan.
Van links: Erna Loubser, W.A.J. Gouws (skoolhoof), Naomi Herbst en Dewald Barnard van Laerskool Gene Louw










