Hoërskool Volksrust groet berader en beskermheer
ADVERTISEMENT
Volkies sê met ʼn traan in die oog totsiens aan ons geliefde berader en beskermheer van die Skoolondersteuningstelsel (SOS), Dr. Kobus Erasmus.
Dr. Erasmus was sedert die 1990’s betrokke by Hoërskool Volksrust in menige kapasiteite. Die een deurlopende hoed wat hy altyd gedra het, was dié van raadgewer en berader. Hy het Volkie-personeel en -kinders met ‘n diepe deernis, liefdevolle hart en baie wysheid met raad en daad bygestaan. Hy was altyd ook net ‘n oproep ver in noodgevalle.
Dr. Erasmus is ook ‘n bekroonde digter, met vier digbundels agter die blad. Hierdie diepe woorde van Dr. Erasmus spreek van sy jarelange ervaring van die trauma en seer wat mense beleef. Dit het in menige beradingsessie harte bereik en nuwe hoop help vestig.
Ek praat namens al die mense wat jou oor baie jare heen in die SOS-kantoor besoek het wanneer ek sê dat jou weggaan een van die grootste verliese is wat Hoërskool Volksrust óóit kon ly. Jy is onvervangbaar.
Dr. Erasmus het ‘n geruime tyd gelede reeds afgetree as predikant. Sy vrou, Rina, het verlede jaar afgetree en ons hoop dat julle die tyd saam sal geniet en baie nuwe avonture sal aanpak.
Baie dankie vir jou onbaatsugtige diens aan Hoërskool Volksrust, Dr. Erasmus. Vaarwel.










