Laerskool Bellville-Noord besoek NSRI
ADVERTISEMENT
Tydens ‘n besoek aan Simonstad op Saterdag, 23 April, het Laerskool Bellville-Noord se Groentjiesklub ‘n baie interessante, leersame en opwindende tyd deurgebring by Stasie 10 van die Nasionale Seereddings Instituut (NSRI). Hier is hul rondgewys rondom en op (en selfs binne-in die groter een van) die twee bote wat gebruik word vir reddingspogings op see. Van die leerlinge kon ook van die toerusting aantrek wat vereis word tydens so ‘n reddingspoging. Hul is ook meer vertel van die groot werk wat vrywilligers verrig omdat almal betrokke by die verskillende stasies reg rondom ons kuslyn vrywilligers is met ‘n ander werk of beroep. Saterdag was daar onder andere ‘n kunstenaar, ‘n sake-eienaar, ‘n duikinstrukteur van die vloot én ‘n natuurbewaarder aan diens om net vier van hul beroepe te noem.
Ons bedank almal betrokke by Stasie 10 wat hierdie besoek iets spesiaals vir die leerlinge gemaak het. Ons sal beslis in die komende week ‘n finansiële bydrae maak omdat die NSRI staatmaak op skenkings en borge om te kan funksioneer.
Amber Ing (NSRI-vrywilliger) demonstreer die reddingsbaadjie deur gebruik te maak van Domenique Botha as model.
Amber Ing (NSRI-vrywilliger) demonstreer die reddingsbaadjie deur gebruik te maak van Domenique Botha as model.
Op die foto is vier van die NSRI-personeel wat ons leerlinge rondgewys het. Hulle staan almal agter tussen die leerlinge en is van links na regs Megan Wagner, Amber Ing, Steve Johnson en Tuesday Houston.
Megan Wagner (regs voor) en Steve Johnson (regs bo-op die boot tussen die leerlinge) staan hier saam met die Groentjies by die ultra moderne reddingsvaartuig genaamd Donna Nicholas. Donna Nicholas was ‘n toeris wat na ‘n besoek aan Simonstad en SA ‘n groot bedrag geskenk het wat grootliks bygedra het tot die aanskaf van hierdie vaartuig. Daarom is dit na haar vernoem.
Tuesday Houston (heel links), Steve Johnson, Megan Wagner en Amber Ing (aldrie op die boot, vlnr) verduidelik vir hierdie groepie hoe kleiner vaartuig aangewend word in reddingspogings. Johan Patrick was intussen met ‘n tweede groepie binne-in die groter vaartuig waarvandaan hierdie foto geneem is.










