Hoërskool Volksrust groet sy hoof
ADVERTISEMENT
Hoërskool Volksrust groet sy hoof: Meneer Jan Ferreira, reeds sedert 2005 deel van ons personeel, het vanjaar afgetree, waar hy vanaf sy plot gaan uitkyk na ons mooi skool en baie vir ons gaan kom kuier. Hoe groet ‘n mens hierdie man, wat seker een van die beste skoolhoofde was wat Volkies ooit gehad het? Ek het dit goedgedink om ons skool se waardes hiervoor te gebruik.
Integriteit: Mnr. Ferreira is die toonbeeld van wat hierdie woord beteken. Sy woord is sy eer en sy dade spreek van sy goeie karakter. Sy leuse: “Walk the talk”, sal altyd deel bly van ons skool. Hy is nie ‘n man wat die kalklig op homself laat skyn nie, maar op sy stil en eerbare manier maak hy ‘n indruk wat blywend is, gegrond op sy sterk morele waardes. Min mense het regtig geweet wat hy in sy stilligheid vir ons skool beteken het, want hy het nooit met sy suksesse op die mou rondgeloop nie.
Eerlikheid: Almal ken Meneer Ferreira aan sy eerbaarheid. Hy is ongelooflik regverdig en daar is nooit uitsonderings gemaak vir enige onderwyser, ouer of kind nie. Almal word met presies dieselfde waardigheid hanteer, of jy nou die staatspresident of die straatveër is. Hy neem verantwoordelikheid vir sy eie gedrag deur eerlik te wees in alle omstandighede.
![]()
Omgee: Mr. Ferreira word geterg omdat hy sy damespersoneel “suster” noem, maar ons ken almal daardie klop van bemoediging op die skouer. Hy sien sy mense raak en gee werklik om vir die welsyn van elke onderwyser en leerder. Hy help sonder vooroordeel en verwag geen eer vir homself nie.
Respek: Dit is wat mnr. Ferreira verdien, maar ook betoon. Hy dwing nie gesag af nie, maar ‘n mens kan nie anders as om respek vir hom te toon nie. Hy sien elkeen se vermoëns raak, elke kwaliteit en elke sukses. Dit was vir hom geweldig belangrik dat elke persoon in die skool “op die regte sitplek in die bus sit”, want as jy gelukkig is in wat jy doen, sal jou werk van sukses getuig.
Liefde: God is liefde en omdat mnr. Ferreira die Here ken, word sy lewe deur liefde bestuur. Sy liefde vir sy Skepper, die natuur en sy mense is altyd duidelik sigbaar. Elke vermaning en elke aanprysing is gekenmerk deur hierdie liefde.
Verantwoordelikheid: Hy streef na ‘n selfgedissiplineerde leefstyl en is altyd stiptelik, netjies en hoflik. Mnr. Ferreira is die man wat elke oggend eerste by die skool is, die man wat veg om nie te gaan lê wanneer hy siek is nie, want sy verantwoordelikheid lê by Volkies. Hy neem altyd verantwoordelikheid vir sy dade en woorde.
Spanwerk: “My personeel”, “my bestuur” – die woorde van ‘n man wat nie alleen voor loop nie, maar sy mense saam met hom laat loop. Hy staan nie agter en jaag almal aan nie. Hy loop voor en maak ‘n stroom so sterk, dat almal hom volg. Nooit het hy enige suksesse aan homself toegeskryf nie. Dit was altyd sy span wat sukses behaal het.
Selfdissipline: Meneer Ferreira besit die vermoë om homself te motiveer en aksie te neem, ten spyte van hoe hy fisies en emosioneel voel. Sy ortopediese “moon boot” was maande lank deel van sy uitrusting en steeds het hy getrou elke aktiwiteit by Volkies ondersteun en aangemoedig.
Lojaliteit: Volkies is in mnr. Ferreira se bloed. Sy lojaliteit teenoor ons skool, ons mense, ons dorp en ons kinders sal altyd besonders bly. Ons skool se goeie naam en tradisies is altyd deur hom beskerm. Net so het hy altyd ons onderwysers en leerders beskerm. “Vyf jaar of vyf maande” is sê-woorde wat na vore kom: Laat jou kinders uit die huis skoolgaan, dan het jy hulle nog 5 jaar in jou huis en nie net nog die 5 maande wat nog oor is van graad 7 nie. ‘n Man van imbors, ‘n man met visie, ‘n man wat ‘n probleem altyd uit ‘n nuwe en vars oogpunt bekyk en dan met ongelooflike insig en wysheid oplos. Volkies gaan hom mis en wens hom baie geseënde jare saam met sy vrou, kinders, kleinkinders en sy geliefde natuur toe. Mag ons nog jare lank op sy knoppie druk as vriend van Volkies, vir wysheid as ons nie raad het nie. Lekker rus Meneer. Jy verdien dit.










