Hoërskool Volksrust atlete skitter by Piet Retief Atletiekbyeenkoms
ADVERTISEMENT
Die atlete van Hoërskool Volksrust het Saterdag hul vaandel hoog gehou tydens ‘n vriendskaplike atletiekbyeenkoms in Piet Retief. Die leerders het nie net uitgeblink in hul atletiekvermoëns nie, maar het ook ‘n indrukwekkende vertoning van dissipline en uniformiteit gelewer. Gedurende die dag het Hoërskool Volksrust se atlete ‘n reeks uitmuntende prestasies behaal, wat gelei het tot die verowering van verskeie eerste, tweede en derde plekke. Die deelnemende skole, naamlik Pionier van Vryheid, Hoërskool Piet Retief, Ferrum, Vryheid Hoërskool en Hendrina, het ook hul beste “beentjie” voorgesit.
Die hoogtepunt van die dag was egter die indrukwekkende rekords wat deur Volkies atlete gebreek is. Mathew MacDonald het die 19-jarige seuns Skyfwerp rekord verbeter van 38,47 m na ‘n nuwe afstand van 39,26 m. Kheto Thwala het die 19-jarige seuns 110 m hekkies rekord gebreek, terwyl Xian Meyer die 15-jarige seuns 100 m hekkies rekord laat spat het. Die skool is trots op sy atlete se prestasies en sien uit daarna om voort te bou op hierdie suksesse gedurende die res van die atletiekseisoen. Hoërskool Volksrust bedank ook die ander deelnemende skole vir ‘n suksesvolle en gesamentlike atletiekgeleentheid.











