Hoërskool Strand spog met suksesvolle Opedag
ADVERTISEMENT
Hoërskool Strand was bevoorreg om talle voornemende Arende en hulle ouers by ons skool te verwelkom tydens die opedag. Die oggend se harde reën en stormsterk winde het ons ietwat bekommerd gehad, maar teen aankoms van ons gaste het die sonnetjie heerlik geskyn. Ons gaste is ontvang deur leerders van ons Arendraad wat die leiers vir die onderskeie groepe was.

Die groepe is begelei met ‘n toer deur die skool en sportgronde. Elke besoeker het ‘n heerlike sjokoladekolwyntjie met ‘n welkomvlaggie ontvang wat deur leerders van ons verbruikerstudieklas gebak is. Ons gaste was ook heerlik vermaak deur ons toutrekspanne wat moes improviseer met die “trek” van ‘n Toyota Fortuner-motor. Dit was vet pret vir beide ons eie toutrekkers en ons gaste.

Die toer is afgesluit met ‘n kort verwelkoming deur, mnr. Malan (skoolhoof) en mnr. Eben Potgieter (beheerliggaamvoorsitter). Baie dankie aan elke leerder en ouer wat ons skool se opedag bygewoon het. Ons sien uit na die weersiens met diegene wat in 2024 gaan deel word van ons Arendfamilie.Aanlynaansoeke by die WKOD open op 13 Maart en sluit 14 April 2023.










