Hoërskool Parel Vallei wen ATKV-Tienertoneel se Wes-Kaapse Streeksfees
ADVERTISEMENT
Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes se “5678” is Saterdagaand, 20 Augustus by die Kunstekaap Teater as die beste produksie van die eerste ATKV-Tienertoneel se Wes-Kaapse streeksfees aangewys. PV se leerderproduksie, (kant)LYNSTAAN het die derde plek behaal en Talia Roux het weggestap met die toekenning vir Beste Aktrise vir haar vertolking van die karakter, Magdaleen in (kant)LYNSTAAN.
Parel Vallei het al drie nominasies vir beste aktrise ingepalm met Doline Havinga (Stefanie in (kant)LYNSTAAN) en Zané Habig (Gerzé Prinsloo in “5678”) wat ook genomineer is. Paul Strydom (Choreographer in “5678”) en Nina Strydom (Mev Wiwwe du Toit in “5678”) is op hulle beurt vir beste akteur en aktrise in ‘n ondersteunende rol genomineer. Kultuurhoof van Parel Vallei, Darryl Spijkers, het erkenning ontvang as die beste regisseur (“5678”) tydens hierdie streeksfees en is trots op hierdie toneelgeselskap wat benewens die individuele prestasies, ook beste hantering van tegniese aspekte, beste ensemble en beste produksie gewen het.
Die span van “5678” is reeds na hulle eerste optrede beloon met altesaam 21 goue toekennings vir o.a. regie (Darryl Spijkers), kostuums (Gabriella Lopes), choreografie (Leanne Angels), ensemble-werk en produksie. Daar was ook ses silwer en agt brons toekennings. (kant)LYNSTAAN het een brons- en vier silwer toekennings ontvang, o.a. Anya Marx in graad 12 as dramaturg van (kant)LYNSTAAN. Parel Vallei wat in 2021 die nasionale wenner van die ATKV-Tienertoneelkompetisie was, het nog twee produksies, DIE SUSTERSKAP en mAaNmAaTs wat hierdie week by die Baxter Teater aan die tweede ATKV-Tienertoneel Wes-Kaapse streeksfees deelneem.















