Hoërskool Langenhoven hoofdogter is genooi na die Afrikaanse Sinergieforum
ADVERTISEMENT
Hoërskool Langenhoven is besonder trots op ons hoofmeisie, Kim Cloete, wat ’n gesogte uitnodiging ontvang het om deel te neem aan ’n paneelgesprek tydens die Afrikaanse Sinergieforum se vergadering op 8 Mei 2026 by die Radisson Blu Hotel in die V&A Waterfront.
Kim is een van slegs vier oud-deelnemers (alumni) van die Netwerk24 en Die Burger Jeugleierskonferensie wat gekies is om aan hierdie paneelbespreking deel te neem. Die gesprek fokus op die tema: “Jongmense en Afrikaans: Wat is die temperatuur op voetsoolvlak?” en bied ’n waardevolle platform waar jong leiers hul perspektiewe kan deel oor taalgebruik en mediaverbruik onder die jeug.
Hierdie uitnodiging is ’n duidelike erkenning van Kim se leierskap, insig en betrokkenheid, en bevestig haar vermoë om as ’n sterk stem vir jongmense en Afrikaans op te tree. Hoërskool Langenhoven wens haar alle sterkte toe met hierdie besondere geleentheid en is trots op die wyse waarop sy die skool se naam en waardes uitdra.










