Hoërskool Ermelo toneelspelers gaan kyk “Die Gelofte”
ADVERTISEMENT
Errie-toneelspelers gaan kyk “Die Gelofte” Op Sondag, 15 Mei het 16 leerders van Hoërskool Ermelo ‘n uitstappie na Pretoria onderneem om nadie teaterstuk, “Die Gelofte”, te gaan kyk. Al hierdie leerders is onderskeidelik lid van die drie tienertoneelstukke wat die skool vir vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie inskryf.
Dit is voorwaar ‘n besondere groot voorreg om die leerders te kan blootstel aan die teater op professionele vlak en ‘n liefde en waardering vir die uitvoerende kunste te kweek. Die Erries se gedrag was onberispelik en die geselskap van “Die Gelofte” was gevul met waardering dat die jeug aan dié bedryf blootgestel word. “Die Gelofte” is ‘n musiekblyspel wat van 6-29 Mei by die AfriForum-Teater opgevoer word. Die projek word aangebied in samewerking met AfriForum en Johan Vorster (kreatiewe direkteur) en Jacomien de Wet (besturende direkteur: Inhoud Huis Musiek). Dié musiekblyspel sentreer om die deursettingsvermoë, geloof en roepingsgedrewenheid wat ons voorgeslagte onder uitdagende omstandighede ten toon gestel het met die aflê van die Gelofte en die Slag van Bloedrivier. Met hulle Christelike geloof as anker het hulle self die hand aan die ploeg geslaan om ‘n nuwe toekoms vir hulself en hul nageslag te bou.

“Die Gelofte” is ‘n moet-kyk wat hom by uitstek daartoe leen om ‘n sterk boodskap van hoop oor te dra terwyl dit hoogstaande vermaak bied met puik musiek en akteurs. EHS vertrou dat al ons aspirantakteurs en –aktrises baie aanmoediging hieruit sal put vir die res van die jaar se toneelbedrywighede wat voorlê, sodat hulle nie net op nie, maar ook af van die verhoog af ‘n positiewe bydrae kan lewer tot ons pragtige land, Suid-Afrika. EHS se toneelleerders is opnuut opgewonde om die verhoog te betree en is baie vasberade besig om te oefen aan hul onderskeie stukke.









