Hoër Volkskool landsdiens
ADVERTISEMENT
Op Saterdag, 3 Februarie 2024, het 21 leerders van Hoër Volkskool na Cradock vertrek vir ‘n dag vol pret en avontuur. Die VCSV en Landsdiens het saamgespan en hulle is vergesel deur Juffrou Gené Erasmus, Juffrou Chante Coetzee en Mnr. Tiaan Van Zyl. Eerste is die “Big Swing” aangedurf. Nadat Dwayne De Beer van Trip’n Adventures gewys het hoe daar werklik geswaai KAN word, het van die waaghalsiges gekompiteer om die beste toertjies uit te haal. Daarna is die Visrivier aangedurf op binnebande, en op ‘n warm dag was dit beslis ‘n lafenis. Weereens het die gidse die groep vergesel en gesorg dat almal hul reddingsbaadjies aanhet. Daar is ook ‘n reddingsbootjie wat saamgevaar het waar die leerders kon opklim sou hulle moeg raak, of hul moed min raak. Die manne van Trip’n het vir die leerders ‘n bederf gehad wat nie op die program ingesluit was nie, en hulle kon lekker in die rivier baljaar met die gidse van Trip`n Adventures wat weereens ‘n wakenede oog gehou het. Die dag is afgesluit met kaasburgers en skyfies by Steers. Hierdie wat ‘n heerlike manier om die jaar se aktiwiteite mee af te skop en ons sien uit na vele avonture, en ook geleenthede om ons gemeenskappe te dien.















