Die Hoërskool Garsfontein atletiekspan het ‘n trotse rekord
ADVERTISEMENT
Die Hoërskool Garsfontein se atletiekspan het ‘n trotse rekord wat oor etlike jare strek in die NWU Super Interhoër asook die Pretoria A-bond Interhoër. Die Garsies is sedert 2009 deel van A-bond van die Super Interhoër. Die skool moes oor die jare hul plek in die A-bond verdien na hy ses verskillende bonde se interhoërs moes wen om uiteindelik in 2005 onder die voorste agt atletiekskole in die Noordvaal-streek te tel.
Daar is in totaal 68 skole wat aan die Super Interhoër deelneem. Garsfontein tel dus reeds die afgelope 13 jaar onder die voorste agt skole in die kompetisie. In die Pretoria Interhoër, wat voorheen as die Jakaranda Interhoër bekend gestaan het, is Garsies al vir die afgelope 28 jaar vanaf 1994 in die A-bond van die kompetisie.
Sewe van die skole wat aan die byeenkoms vanjaar deelgeneem het, tel onder die voorste agt atletiekskole in Suid-Afrika. Garsies het self tydens die Twizza Nasionale Super-reeks ‘n agtste plek in Suid-Afrika los genael, spring en gooi. Garsfontein het ook in dié interhoër al ses keer in die verskillende bonde koning gekraai. Dit beteken dat Garsfontein se atletiekspan reeds sedert die skool se ontstaan 34 jaar gelede in 1988 ‘n volle 12 keer ‘n interhoër-titel verower het.

Garsfontein se o.19 meisies-aflos span vir die Pretoria A-bond asook die Super Interhoër het vanjaar geskiedenis gemaak deur goud te verower. Van links is Tanché Labuschagne, Karli Slabbert, Yave Collins en Chané Kok. FOTO: Andries Kruger
Die Hoërskool Garsfontein se atletiekprogram is ook uniek in die sin dat die skool een van min is wat aan sy atlete die geleentheid gee om aan twee interhoërs van die gehalte deel te neem. Garsfontein se o.19 meisies-aflospan het vanjaar geskiedenis gemaak deur die eerste span in die ouderdomsgroep vir meisies te word om goud op die Pretoria A-bond te wen.
Die viertal van Tanché Labuschagne, Karli Slabbert, Yave Collins en Chané Kok het met ‘n wentyd van 49.60 sekondes koning gekraai. Garsies se o.19 aflosspan het in 2010, 2013 en 2017 wel ook daarin geslaag om die silwermedalje te verower. Tydens die Super Interhoër in die Ruimsig-stadion het die viertal ook met die louere in ‘n blitsige 48.78 sekondes weggestap.









