Hoërskool Witteberg se Tienertoneelspan skitter as Durban-streekswenners
ADVERTISEMENT
Hoërskool Witteberg se Tienertoneelspan het van 23 tot 25 Julie tydens die ATKV-Tienertoneelfees in Durban geskitter toe hul produksie, (Op)soek na Sondag, as Durban-streekswenner én beste produksie bekroon is. Die span is verder met verskeie spesiale toekennings vereer en het ‘n indrukwekkende medalje-oes opgelewer.
Die produksie, geskryf deur Luan Jacobs, vertel die verhaal van ‘n groep boemelaars wat hul name vir dae van die week verruil het. Wanneer Sondag spoorloos verdwyn, pak hulle ‘n reis aan om hom te gaan soek. In ‘n vervalle myn word hulle met versoeking, moeilike keuses en die gevolge daarvan gekonfronteer. Die verhaal dra ‘n sterk geloofsboodskap oor: dat die keuses wat ons maak gevolge het, maar dat die Heilige Gees altyd teenwoordig is en ons nooit alleen laat nie.
Die regisseur van (Op)soek na Sondag, juffrou Ronelle van Heerden, skryf die produksie se sukses toe aan die span se uitsonderlike samewerking. “Die groep is spesiaal, want hulle spanwerk is fantasties. Hulle werksetiek was van hoogstaande gehalte en dit het tot ons sukses bygedra. Elkeen het geweet wat hulle rol is en daarom het ons spesialiste op elke gebied gehad. Ons het ook baie navorsing en besprekings rondom die stuk gehou,” sê sy.
Hoewel die streekswenner-titel ‘n besondere hoogtepunt was, sê Van Heerden die grootste waarde van die produksie lê in die boodskap wat dit oordra. Volgens haar was die geleentheid om die verhaal te vertel, die geloofsboodskap uit te dra en die hegte vriendskappe wat tydens die proses gevorm is, net so betekenisvol soos die uiteindelike erkenning.
Benewens die streekswenner-titel en die toekenning vir beste produksie, is Erné van Aswegen as beste verhoogbestuurder, Suné Hills as beste beligtingsoperateur en Gerhard Nel as beste klankoperateur aangewys. Die produksie is ook vereer vir beste hantering van tegniese aspekte, terwyl Leonelle van Niekerk die toekenning vir beste aktrise in ‘n hoofrol ontvang het vir haar vertolking van Maandag.
Een van die span se groot uitblinkers was Erné van Aswegen, wat ‘n Cum laude vir verhoogbestuur ontvang het en ook as beste verhoogbestuurder aangewys is. “Toe ek hoor van die prestasies, kon ek dit nie glo nie. Dit is ongelooflike erkenning, maar ek kon dit nooit sonder die hele groep, die tegniese span en juffrou Ronelle bereik het nie,” vertel sy.
Die produksie se sukses is verder weerspieël in die medaljetoekennings, waar Witteberg een Cum laude-, sewe goud-, twaalf silwer- en vyf bronsmedaljes ontvang het vir onder meer spel, regie, ensemblewerk, tegniese aspekte, kostuums, stelontwerp, beligting en klank.
Met die Durban-streekswenner-titel en ‘n indrukwekkende aantal individuele toekennings agter hul naam, verskuif Witteberg se Tienertoneelspan nou hul fokus na die Allegretto Toneelfees in Bloemfontein, waar (Op)soek na Sondag op 13 Augustus weer op die planke sal wees.









