Laerskool Vryheidsmonument krieketspeler presteer uitstekend
ADVERTISEMENT
Dit is vir Laerskool Vryheidsmonument ’n groot voorreg om aan te kondig dat Luan van Vuren gekies én behou is vir die LPL 2026-seisoen as deel van die Sporting Supermen o/10-span. Luan het hom hierdie seisoen besonder goed van sy taak gekwyt tussen 136 geregistreerde spelers regoor Gauteng, en die volgende indrukwekkende prestasies behaal:
- 6de algeheel op die lopies-ranglys
- 31ste algeheel op die boul-ranglys
Die toernooie is oor 7 provinsies aangebied, waarna die beste spelers gekies is vir die Nasionale Toernooi. Slegs 16 spelers per streek (Noord, Oos, Suid en Wes) is uiteindelik gekies – ’n ware bewys van uitsonderlike talent en deursettingsvermoë. Die skool is besonder trots om te kan deel dat Luan een van hierdie uitstaande 16 spelers is wat gekies is om deel te neem aan die Nasionale Toernooi, wat vanaf 1–4 Julie 2026 in Witrivier, Limpopo plaasvind.
Hierdie is ’n uitmuntende prestasie en ’n groot eer om op hierdie vlak erkenning te ontvang. Baie geluk, Luan! Jou harde werk, toewyding en passie vir krieket is duidelik sigbaar en dra nou vrugte. Ons wens jou alle sterkte toe vir die nasionale toernooi. 










