Die Hoërskool Garsfontein se krieketspan onoorwonne in die Kaap
ADVERTISEMENT
Die Hoërskool Garsfontein se eerstespan het daarin geslaag om die Hoër Jongenskool Paarl se jaarlikse krieketfees onoorwonne af te sluit. Garsies het op die eerste dag van die krieketfees teen die gasheer, Boishaai, in ‘n tydkrieket wedstryd te staan gekom. Die wedstryd het onbeslis geëindig, maar die tuisspan was teen uitskeityd met 91/8 reeds met sy rug teen die muur.
- Garsies het eerste gekolf en 147 lopies aangeteken danksy bydraes deur Bevan Coetzer (33*), Darius Schutte (29) en Heinrich Cloete (24). Coetzer wat ‘n uitstekende toer beleef het, was met sy boulsyfers van 3/36 ook die span van die Jakarandastad se voorste bouler.
- Garsies het daarna in sy twee kitskrieket-wedstryde teen die Hoërskool Stellenberg en die Hoërskool Durbanville klinkende seges behaal.
- Teen Stellenberg was Garsies met agt paaltjies baas. Mohammed Aslam (57*) en Schutte (27*) wat hul span sonder veel moeite verby die wenteiken gekry het.
- Teen Durbanville het Brendan Schmidt (94) net kort van sy honderdtal vasgeval, maar dit het Garsies gehelp om 284/8 in sy toegelate 50 boulbeurte aan te teken. Gustav de Beer (53) het met ‘n vyftigal ook ‘n waardevolle bydrae gelewer.
- Durbanville is vir slegs 149 lopies uitgeknikker danksy ‘n vyftal paaltjies deur die draaibouler, Coetzer (5/22).

Bevan Coetzer
Maandag op die laaste dag van die krieketfees het Garsies vir Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch met twee paaltjies in ‘n T20-wedstryd getroef.
Garsies se aanvangsbouler Wehan de Waal het van vyf kolwers vir slegs 11 lopies ontslae geraak. Hy het goeie ondersteuning vanaf Heinrich Cloete (3/24) ontvang.
Coetzer het hier weer sy wilgerlat die praatwerk laat doen en 40 lopies aangeteken. Dumisani Motshwene (32*) het met sy onoorwonne beurt ook ‘n groot rol in die sege vertolk.
Beknopte telkaarte:
- Garsfontein 147 (Bevan Coetzer 33*, Darius Schutte 29; Heinrich Cloete 24; Jarod Francis 4/8, Johan Wege 3/26); Hoër Jongenskool Paarl 91/8 (Liam Vermeulen 20; Bevan Coetzer 3/36, Wehan de Waal 2/9). Wedstryd eindig onbeslis.
- Stellenberg 112 (Zack Fernandez 41, Ekstras 33; Bevan Coetzer 2/11, Luan Ferreira 2/23); Garsfontein 113/2 (Mohammed Aslam 57*, Darius Schutte 27*; Clyde Frieslaar 2/23). Garsfontein wen met agt paaltjies.
- Garsfontein 284/8 (Brendan Schmidt 94, Gustav de Beer 53, Dumisani Motshwene 36, Ekstras 29, Luan Ferreira 24; Lian Labuschagne 2/58); Durbanville 149 (Lian Labuschagne 38, Micka Labuschagne 34, Wian Koen 25; Bevan Coetzer 5/22). Garsfontein wen met 135 lopies.
- Paul Roos Gimnasium 127/9 (Zack van Onselen 50, Ties Bakker 23; Wehan de Waal 5/11, Heinrich Cloete 3/24); Garsfontein 129/8 (Bevan Coetzer 40, Dumisani Motshwene 32*; Callum Appollis 3/22). Garsfontein wen met twee paaltjies.









