Solidariteit se ontbyt vir hoofleiers 2025
ADVERTISEMENT
Op 17 Oktober 2025 het Solidariteit se Skoliere-aanbod sy jaarlikse Hoofleierontbyt by Loft at Nine in Menlo Park aangebied. Hier het altesaam 42 hoofleiers van verskeie hoërskole in Gauteng byeengekom vir ʼn oggend van inspirasie, goeie gesprekke en gemeenskap. Dié geleentheid het vir hierdie jong leiers die kans gegun om mekaar beter te leer ken – sonder die druk van kompetisie, asook om verhoudings te bou, wysheid te deel en hul leierskapreis met nuwe energie aan te pak.
Volgens Felicia Richardson, spesialis verbonde aan Solidariteit se Skoliere-aanbod, het hierdie ontbyt as ʼn simboliese en werklike afskop vir die leierskapreis gedien waarop hierdie jong mense binnekort gaan vertrek. Sy het verduidelik: “Ons bring die verskeie skole se hoofleiers bymekaar, en bou dan ʼn gemeenskap van jong leiers wat mekaar kan dra, inspireer en deur die jaar versterk.” Richardson het beklemtoon dat hierdie geleentheid nie net ʼn erkenning van prestasie vir die leerders was nie, maar van karakter, moed en diensbaarheid: “Vir die leerders is dit ʼn erkenning van hul verantwoordelikheid én hul potensiaal. Dit is ook ʼn bevestiging dat hulle nie alleen hoef te stap nie – daar is ʼn groter beweging wat hulle ondersteun.”
![]()
Die ontbyt het ook Solidariteit se Skoliere-aanbod se verbintenis tot waardegedrewe jeugontwikkeling beklemtoon. “Met hierdie sewende Hoofleierontbyt het ons ons verbintenis bevestig om nie net toeskouers van die jeug se reis te wees nie, maar aktiewe reisgenote. Sterk leiers ontstaan nie toevallig nie – hulle word gebou, gelei en gevier,” het Richardson gesê.
Die oggend het ʼn gevoel van samehorigheid en inspirasie bevorder, waar jong leiers hul ervarings kon deel en nuwe verhoudings kon vorm. “Ons wou hê elke leerder moes huis toe gaan met die wete: Ek het ʼn gewig op my skouers, ʼn groot verantwoordelikheid, maar ek dra dit nie alleen nie,” het sy bygevoeg.
Die hoofspreker van hierdie geleentheid was Susan O’Reilly, dosent in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia. O’Reilly wat ʼn navorsingsielkundige, opvoeder en leierskapfasiliteerder is, hetgefokus op die ontwikkeling van jong leiers binne die skoolomgewing. Haar klem op ondersteuning, selfvertroue en verantwoordelikheid stem volkome saam met Solidariteit se Skoliere-aanbod se visie oor waardegedrewe leierskap.Deur hierdie Hoofleierontbyt het elke deelnemer met hernude selfvertroue vertrek, ʼn gevoel van gemeenskap en die wete dat hulle nie alleen op hul leierskapreis is nie.










