Paul Roos Gimnasium Tennisspan is die beste in Suid-Afrika
ADVERTISEMENT
Die Paul Roos Gimnasium o.16 Tennis Span is aangewys as die beste o.16 skole tennis span in Suid-Afrika deur die BNP Paribas Rising Stars National Finals by Groenkloof in Pretoria te wen. Hierdie is ‘n landswye tennis toernooi aangebied deur Tennis Suid-Afrika en waar die wenner moet deur dring vanaf streeksvlak na provinsiale vlak en dan na die nasionale finaal waar al die provinsiale wenners kragte meet.

Paul Roos o.16 Wenspan
Die Paul Roos span het bestaan uit die enkels spelers Willem de Waal en Pieter Kotze, asook die dubbelspaar van Divan Prinsloo en Christiaan Cronje. Die PRG span was 3de gekeur by die nasionale finaal, maar het uitstekend presteer deur met die 1ste gekeurde Grey College in die semi-finaal af te reken en daarna met die 2de gekeurde Waterkloof om die titel te wen. Albei wedstryde was baie taai en die Maroen Machine het in beide gevalle met 2 wedstryde teenoor 1 gewen. In 2022 het die PRG span naelskraap met 1-2 teen St.Stithians verloor. Volgens hul afrigter Swannie Swanepoel is die rede vir hul konstante sukses, baie dissipline en harde werk oor ‘n baie lang tyd.










