‘n Terugblik op onderwysloopbaan – 50 jaar later
ADVERTISEMENT
In 1966 het André Jacobs in Aliwal-Noord Hoërskool gematrikuleer en in Januarie 1967 aan die Wellington Onderwys Kollege onderwys begin studeer. Na 4 jaar se studies, het hy by Hoërskool Williston sy eerste pos aanvaar. Daar het hy weer vir Mnr. Sakkie Visser, wat hier by ANHS sy houtwerkonderwyser was, ontmoet. Na 2 jaar in die diep Karoo, het hy die skuif gemaak terug na sy wortels in Aliwal-Noord, en ‘n pos aan die Laerskool Aliwal-Noord aanvaar. In 1984 is hy na Departements Hoof bevorder.
In 1988 het hy ‘n aanbod by Old Mutual as finansiële adviseur aanvaar. Tydens sy skooljare by LSAN, was die skoolhoof Mnr. Chris Cornelissen en Frans Viljoen die senior assistant – daar was geen adjunkhoof nie, aangesien getalle te min was. Die leerlingtal was so ongeveer 280. Wanneer ons getalle moes opgee, het Mnr. Cornelissen gesê elke onderwyser moet maar so een of twee name bysit, sodat ons getalle so om en by 310 kan wees! Sodoende kon ons een onderwyser behou. Eers later jare het ons getalle opgetel.
![]()
Hy onthou, met liefde en waardering, ook sommige ander personeellede van daardie jare. Mnr. Vosloo, by wie hy ontsettend baie geleer het, mev. Von Broembsen, mev. Martie Naude en Almarie Schutte (Wentzel). Later jare het Essie La Grange (Miss Spark) bygekom – sy kon glad nie Afrikaans praat of goed verstaan nie en hier was my kans om haar allerhande “nuwe” woorde te leer en dan moes sy vir Frans Viljoen vra wat die spesifieke woord werklik beteken het! Soms het dit redelike konsternasie veroorsaak! Ek sal nooit vir Pearley Laing vergeet nie: ek het ‘n groot brulpadda van die huis af gebring en die seuns in haar klas het dit in ‘n skoendoos op haar tafel gesit. Toe sy na pouse in die klas kom, was sy baie verbaas en opgewonde oor die “geskenk” van die klas af. Ek dink David van Aardt was nog in daardie klas. Nou-ja, toe sy die skoendoos oopmaak, spring die ou groot, skurwe meneer uit en Pearly skrik haarself in ‘n ander bloedgroep in!
André het in die koshuis gebly saam met manne soos Bennie Rens en Hasie de Haast. Dave Nel was die koshuisvader. Mart Erasmus en Jo Kelly-Gildden was onderskeidelik matrone en hulp-matrone. Onvergeetbare mense. Bennie Rens is op die oomblik baie siek en benodig gebede. André se sukses in die sakewêreld by Old Mutual het hy, benewens die Goeie Gewer se genade, te danke aan die lesse wat gedurende sy meer as 17 jaar in die onderwys geleer het. Aspekte soos netheid, stiptelikheid, menseverhoudings en natuurlik, om jou humeur te beteuel.
Vyftig jaar later, op die dag en datum, het sy kleinseun, Pieter du Toit, as amptelike onderwyser by Laerskool Aliwal-Noord begin. Die jongman, wat in sy oupa se voetspore volg en die akademiese erfenis laat voortleef, kan net voorspoed en alles wat mooi is, toegewens word. Ons vertrou dat Pieter ‘n reuse sukses van hierdie loopbaan sal maak. Jong onderwysers sal wel foute maak, maar met regte leiding kan hulle probleme oorkom. In die veranderende onderwysmilieu, is dit noodsaaklik dat jongmense in die sisteem bly sodat ons die volwassenes van môre die beste akademiese fondasie kan gee. Dit sal interessant wees as Pieter oor 50 jaar ook sy belewenis van sy onderwysloopbaan beskryf! Ons hou die ALIE-NAAM hoog! André Jacobs










