Laerskool Nelspruit maak geskiedenis op die rugbyveld
ADVERTISEMENT
Nellies maak geskiedenis! Middelburg het die afgelope naweek gasheer gespeel vir die finale rondte uitspeelwedstryde om te bepaal wie die beste laerskool rugbyspanne in Mpumalanga vir hul onderskeie ouderdomsgroepe is. (0.9, 0.10, 0.11, 0.13 – Kleinskole, Mediumskole en Grootskole)
Laerskool Nelspruit het egter geskiedenis gemaak deur in al vier ouderdomsgroepe gekroon te word as Mpumalanga Grootskole Rugbykampioene vir 2023. Die Nellies het die spog prestasie al in krieket behaal in 2017, maar nou is die vier ouderdomskampioene in een jaar wat rugby aanbetref ook deel van ons trotse geskiedenis. Ons o.9A Welpies het in Vrydag se halfeindrondte, 27 – 0 teen Laerskool Middelburg gewen en is Saterdag as Mpumalanga Grootskole kampioene gekroon nadat hulle vir Laerskool JJ van der Merwe met 12 – 0 in die finaal geklop het. Nellies se o.10A Leeutjies het Vrydag met Laerskool Klipfontein afgereken (45 -0) en is Saterdag as Mpumalanga Grootskole kampioene gekroon nadat hulle vir Laerskool Kruinpark met 31 – 0 geklop het.
Die o.11A Jong Leeus het twee naelbyt uitspeelrondtes gehad waar die #NellieGuts uiteindelik die deurslaggewende rol gespeel het. In Vrydag se halfeindrondte klop hul vir Laerskool Klipfontein in ‘n spannende wedstryd met 5 – 0. Die finaal teen Laerskool Goedehoop was geensins makliker nie, en die Nellies wen uiteindelik 14 – 7 om die trofee te lig. Ons Landrover Nellie Leeus 1ste XV het die beste vir laaste gehou. Hulle klop vir Middelburg Primary met 55 – 12 in Vrydag se halfeindrondte en wen die finaal gemaklik met ‘n rekordtelling van 41 – 0 teen Laerskool JJ van der Merwe. Wat die span se prestasie so merkwaardig maak is dat hulle in 20 wedstryde ‘n totaal van 811 punte aangeteken het die seisoen en slegs 94 punte afgestaan het. Hulle druk 123 drieë en staan slegs 16 drieë af.

Spanfoto is foto saam met manspersoneel, die vier bekers en die hoofborg, Landrover.
Mnr Adendorff, hoofafrigter van die Leeus het oor die jare al baie goeie skoolspanne afgerig! Hy is nie skaam om te noem dat daar twee spesiale spanne is wat uitgestaan het bo die res. Die 2005 span van Kimo van Huysteen (Kaptein) en natuurlik vanjaar se Landrover Leeus XV van James Williams. “Beide 2005 en 2023 se Nellies eerste rugbyspanne was besonder spesiaal, maar vandag het hierdie groep seuns van 2023 net bevestig dat hulle die beste skolespan is wat ek tot dusver afgerig het” , het mnr Adendorff met ‘n glimlag vertel. Ons wens jul net die beste toe by Hoërskool Nelspruit se rugby akademie en o.14’s in 2024.
Baie geluk aan al ons seuns en afrigters. Dankie aan ons ouers en al ons borge vir u ondersteuning. Spesiale woord van dank aan ons hoofborge, Auto Baltic Nelspruit en Land Rover Nelspruit vir u ondersteuning. Groot waardering dat julle ons spesiaal van Nelspruit af in Middelburg kom ondersteun het. Laaste maar nie die minste, dankie aan ons Hemelse Vader vir die geleenthede en talente! Dankie dat U ons veilig gehou het op die pad en veld die naweek en gedurende die seisoen! Ons is tot alles in staat deur Hom wat ons krag gee! (Fil 4:13). Sonder Hom is ons niks. Gelukwense van regoor Suid-Afrika en selfs van Europa het ingestroom, onder andere van oud Nellie, Duane Vermeulen wat die afrigters en seuns geloof het met die prag prestasie!

Michael Venter, man van die wedstryd rank hoog vir ‘n bal in die lynstaan
Foto krediet / Johan Orton









