Laerskool Nahoon Gr 5 leerder leef sy droom uit
ADVERTISEMENT
Toe die drama-gogga vir Thabiso Fitzgerald, ‘n leerder van Laerskool Nahoon, op 8-jarige ouderdom gebyt het, was dit met mening, en sonder enige vooruitsigte om te laat gaan. Nou, 3 jaar later, klou dié gogga steeds vas, en het in die tussentyd gesorg vir drie dans- en dramaproduksies waarin die jong ster reeds geskitter het.
In die jare na Thabiso in graad 2 vir die eerste keer op die planke van die Gilde Teater se verhoog gedans het, het sy talente aanhou met ontwikkel. Die ontwikkeling sluit drie produksies in waarin hy verskeie rolle in toneelstukke soos Dynamic Dancing, Moana en Madagaskar vertolk het. Tans is hulle dramagroep besig met Shrek, the Musical, wat vanaf 22 Junie by die ‘National Arts Festival’ opgevoer word. Na hy in November 2022 die toneelstuk, Vincent, The Cabaret, gesien het, het Thabiso besluit om ook die regisseur-baadjie aan te trek en skryf sy eie eerste eenmanvertoning.

Madagaskar
Hy het besluit om die lewensverhaal van Leonardo da Vinci te vertel. Thabiso het self die storie geskryf en sy eerste vertoning het reeds in Januarie 2023 plaasgevind. Al is dit ‘n eenman vertoning, het Thabiso tog hulp nodig met die klank en beligting. Dit word behartig deur sy klasmaat, Ivan Kruger, ook ‘n graad 5-leerder van Laerskool Nahoon. Hierdie twee seuns is beste vriende en geniet die tyd wat hulle saam kan deurbring. Thabiso hoop om nog ‘n hele paar vertonings van The Story of Leonardo da Vinci op te voer en nooi almal uit om die uur en half lange vertoning by te woon.










