Laerskool Gene Louw het onlangs hul eerste RoboRookies Robotika-kompetisie aangebied
ADVERTISEMENT
Laerskool Gene Louw het onlangs hul eerste RoboRookies Robotika-kompetisie vir Grondslagfaseleerders aangebied. Hierdie opwindende baanbrekersprojek het behels dat Graad 3- en Graad 2-deelnemers elk saam met een van hul ouers werk om ’n robot volgens spesifieke instruksies te bou en te kodeer om sekere take uit te voer. Die organiseerders het soveel inskrywings ontvang dat twee sessies vir elke graadgroep gereël moes word. Elke span se bouproses en kodering is beoordeel om ’n wenner vir elke sessie te kies. Die Graad 2-wenners was Ruan de Wind en sy pa, Hanno, en Mia van der Walt en haar pa, Kurt. Van die Graad 3’s het Salome Josling en haar pa, Jacques, en Euan Vosloo en sy pa, Basil, met die louere weggestap. ChinguBots se Aikiro-robotikastelle, wat ook by die skool in die robotika-klas gebruik word, is vir die kompetisie ingespan.
Ruan de Wind (Graad 2), lid van een van die RoboRookies-wenspanne, ontvang sy prys van kodering- en robotika-opvoeder mev. Amanda Heath.
Foto krediet: Grethe De Waal










